Deur Liesel le Roux
DRIE afgeleefde waterpompe wat Dysselsdorp van water moet voorsien, is pas danksy befondsing van die nasionale Departement van Water en Sanitasie met vier moderne pompe vervang. Die nuwe pompe is van die beste tans beskikbaar.
“Dié projek was noodsaaklik. Een van die afge-leefde pompe was op die punt om in te gee,” sê die munisipale bestuurder, Allen Paulse.
Die ou pompe was reeds 24 jaar oud.
Paulse het die munisipaliteit se tegniese span gelukgewens met hul vinnige optrede om die probleem op te los. “Dit neem sowat 12 tot 16 weke om die soort pompe in Suid-Afrika af te lewer, maar ons kon ’n aanbod maak op pompe in Gauteng wat beskikbaar geraak het nadat ’n kontrak vir ’n ontsoutingsaanleg gekanselleer is.
“Dit was ’n massiewe projek. Ons kon hierdeur die uiters afgeleefde pompe met energie-doeltreffende pompe vervang wat vir die volgende 20 jaar diens sal kan lewer.”
Die pompe kan ook dien as bystandpompe vir Dysselsdorp en die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS).
• Die projek van R2 miljoen is befonds deur ’n waterdienste-infrastruktuurtoekenning van die Departement van Water en Sanitasie.
• Die nuwe pompe kan op die internet gesien word by https://youtube/kbE8hGAGYCk