Straatkinders met messe raak oproerig
Deur Ilze-Mari Gründling
’N 33-jarige man van Oudtshoorn het Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklagte van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied asook poging tot moord nadat hy na bewering skote by die CP Nel Museum in Baron van Reedeweg geskiet het.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Iwe Kruger verlede Woensdag omstreeks 18:30 op die hoek van Voortekkerweg en Baron van Reedestraat na bewering deur sowat 20 straatkinders genader.
“Die kinders het oproerig geraak en hulle het messe by hul gehad,” sê Michaels. Kruger het ’n vuurwapen uitgehaal en twee skote geskiet. Na bewering het hy die vuurwapen ook op een van die kinders gerig.
Volgens een van die vereverkopers by die museum, wat verkies om anoniem vir haar veiligheid te bly, het die kinders probeer om goedere uit die man se bakkie te steel.
“Sy bakkie het hier by ons gestaan. Daar was baie kinders en ons het gesien hulle het messe. Toe hy sy geweer uithaal en begin skiet, het ons gehardloop. Ons het gevoel ons lewens was in gevaar,” sê sy.
Volgens Michaels is Kruger R1 000 borg toegestaan en sal hy weer op Vrydag 16 Maart verskyn.