Ouderdom en waterdruk laat ou asbespype bars

Water het Maandag weer van vroegoggend in Langenhovenweg afgestroom nadat ’n pyp gebars het. Die foto is die middag geneem en is volgens inwoners die vyfde pyp wat al vanjaar in dié deel van die straat gebars het.                                                                                                                                                    Foto: Liesel le Roux

Water het Maandag weer van vroegoggend in Langenhovenweg afgestroom nadat ’n pyp gebars het. Die foto is die middag geneem en is volgens inwoners die vyfde pyp wat al vanjaar in dié deel van die straat gebars het.  Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
OU asbessementpype wat in die 1960’s in Oudtshoorn gelê is, en die hoë druk in die pype is die oorsake van die talle pypbarste op Oudtshoorn, sê Aurelia Oliphant, woord­voerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Die munisipaliteit het gereageer op ’n navraag van Die Hoorn nadat waterpype in Langenhovenweg Maandag die vyfde keer sedert die begin van vanjaar gebars het.

Volgens Oliphant is daar egter goeie nuus op die horison. Daar is vir die huidige boekjaar begroot vir die vervanging van ou pype wat sal saamloop met die opgradering van strate. “Meer fondse sal beskikbaar gestel word soos die munisipaliteit se finansiële herstelprogram vrugte afwerp,” sê Oliphant.

Die Hoorn het in 2012 berig dat die munisipaliteit al in omstreeks 1997 besluit het om ou pype met uPVC-pype te vervang, maar dat dit nooit gerealiseer het nie as gevolg van ’n gebrek aan fondse. Die vervanging sal na verneem word ’n astronomiese bedrag kos.

Die direkteur van tegniese dienste, Chris Koch, het verlede jaar aan Die Hoorn gesê behalwe dat die pypleidings in die hele Groter Oudtshoorn baie oud is, is onderhoud ook vir dekades nie gedoen is nie.

Voorts veroorsaak die feit dat Oudts­hoorn se reservoirs op twee druksones op grond van hul ligging bo seespieël lê groot probleme met waterdruk wanneer water uit pype met hoë druk op die een of ander manier in pype met lae waterdruk beland. Oliphant beskryf dié dorp se pyp­leidingnetwerk wat oor die jare ontstaan het, as ’n uiters komplekse stelsel wat moeilik is om te bedryf.

“Die tegniese departement is tans besig om sonekleppe wat die twee sones moet skei na te gaan en verstellings aan te bring. Die projek is nog aan die gang en ons hoop om binne ’n maand of twee die druksones geskei te kan kry.”

Oliphant sê van die kleppe is egter op straathoeke in die middel van die pad en kan nie geredelik ondersoek of gediens word sonder om groot skade aan die teerpad aan te rig nie.