Ellen Mentoor (derde van regs) saam met familie nadat sy gisteroggend op borgtog vrygelaat is. Links is Clinton se ouma, Flora Mentoor. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
BORGTOG van R500 met streng voorwaardes is gisteroggend in die Oudtshoorn Landdroshof toegestaan aan ’n vrou wat van die moord op haar seun aangekla word.
Die saak is Dinsdag tot groot ontsteltenis van familie en vriende van Ellen Mentoor (37), tot Woensdag uitgestel toe die ondersoekbeampte nie by die hof opgedaag het nie.
Mentoor word daarvan aangekla dat sy haar seun, Clinton (16), op Saterdag 9 September tydens ’n stryery met ’n mes in die nek gesteek het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, wat nie borgtog teengestaan het nie, toon Mentoor se borgprofiel dat sy geen vorige veroordelings het nie.
Mentoor wil volgens ’n familielid graag haar seun se begrafnis komende Saterdag bywoon. Familielede het na die verrigtinge gesê dat hulle baie verlig is dat die toestaan van borgtog dit vir haar moontlik sal maak.
Landdros Roelf Konstabel het borgtog op R500 vasgestel en die saak tot 27 Oktober uitgestel.
Mentoor se borgvoorwaardes bepaal dat sy elke Maandag en Vrydag tussen 06:00 en 18:00 by die Bongolethu Polisiestasie moet aanmeld en haar moet weerhou van enige kontak met ’n staatsgetuie, Bianca Jacobs. Sy is ook gewaarsku om alle hofverskynings by te woon en nie betrokke te raak by enige misdrywe nie. Indien wel, het die landdros gewaarsku, sal haar borgtog ingetrek en sy aangehou word totdat die saak afgehandel is.
Clinton word Saterdag om 10:00 vanuit die Pinkster Protestante Kerk in Bridgton begrawe. Die huisdiens te Lappertsrtaat begin om 09:00.