Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek klagtes van strafbare manslag nadat drie mense gesterf het toe ’n minibus-taxi Saterdag (16 September) in die vroeë oggendure op die R328 net buite Oudtshoorn omgeslaan het.
Die oorledenes is klaarblyklik van Kaapstad. Die polisie kon nie hul name verskaf nie.
Dit was die tweede noodlottige ongeluk op die R328 nadat Johannes Plaatjies Vrydagmiddag in ’n botsing tussen drie motors gesterf het.
Vyf mense is in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem met ernstige beserings.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, is die vyf pasiënte in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel.
“Drie pasiënte is oorgeplaas na die George Hospitaal terwyl die ander twee pasiënte steeds in Oudtshoorn Hospitaal is.”
Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die ongeluk het omstreeks 04:44 net buite Oudtshoorn waar die Mosselbaai-pad en Calitzdorp-pad by mekaar aansluit, plaasgevind. Die minibus-taxi was met die R62 vanaf Kaapstad na Oudtshoorn op pad.
“Die sleepwa het na bewering begin rondswaai toe die bestuurder regs wou draai by die Mosselbaai-aansluiting (uit die R62 op die R328). Die passasiers het benoud geraak en binne-in die taxi opgestaan. Die bestuurder van die taxi het toe beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan.”
Die drie slagoffers is op die toneel oorlede.
Daar was na verneem word tussen 16 en 18 insittendes in die minibus-taxi.