
Deur Liesel le Roux
’N VEEARTS van die Kango Dierekliniek op Oudtshoorn, dr Trude Stassen (50), is in ’n stabiele toestand in die Mediclinic George nadat sy Maandagmiddag op die Lategansvleipad deur ’n voertuig getref is terwyl sy fiets gery het.
Stassen het veelvuldige beserings opgedoen en is per ambulans na die Mediclinic Klein Karoo op Oudtshoorn geneem. Sy is die aand na George oorgeplaas.
Volgens Lee-Ann van Sittert wat werksaam is by die Kango Dierekliniek, sou Stassen gister ’n operasie ondergaan in haar een arm wat gebreek is. Stassen het ook ribbes gebreek in die botsing en ’n been erg beseer.
Corné Botha, wat kort ná die ongeluk op die toneel was totdat Stassen met die ambulans hospitaal toe geneem is, sê sy het baie seergekry en veelvuldige beenbreuke opgedoen.
Die Hoorn kon nie gister daarin slaag om terugvoering van die Mediclinic George te kry nie.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die voorval het omstreeks 17:30 plaasgevind. “Na bewering het die bakkie sowel as die fietsryer noord gery en het die bakkie die fietsryer links verbygesteek. Die fietsryer het links beweeg waarna die twee gebots het.” Die Polisie ondersoek tans die saak.