Anne-Maree van Wyngaardt, suster van die ontslape Mark van Wyngaardt, ontvang sy toga van Brenda Claassen, stenograaf wat vir baie jare saam met haar broer gewerk het. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
“DIE E-hof sal nooit weer dieselfde wees nie.”
So het Christo van der Bergh, prokureur van Oudtshoorn, Dinsdagoggend in sy huldeblyk vir die ontslape streeklanddros, Mark van Wyngaardt (63), in die E-hof, die hof waarin Van Wyngaardt sy sake aangehoor het, gesê.
Talle landdroste, advokate, prokureurs en staatsaanklaers van Oudtshoorn en George, tolke en personeellede van die Departement van Justisie, asook die Wes-Kaapse waarnemende streekhofpresident, dr James Lekhuleni, het die geleentheid bygewoon om hul laaste eer aan ’n kollega te bewys.
“Die E-hof was my gunstelinghof. Nie net was Mark ’n intelligente juris nie, maar ook uiters veelsydig en ’n baie bekwame en filosofiese kunstenaar in vele opsigte,” het Van der Bergh gesê. “Sy optrede teenoor my, die beamptes in die hof en my kliënte, sy insig, humorsin en die manier hoedat ek en hy in die hof kon skerts, was altyd vir my ’n hoogtepunt.”
Hy het Van Wyngaardt, by die meeste prokureurs en aanklaers bekend as Wynie, beskryf as ’n seder wat geval het. “Maar ’n seder sou my vriend homself nooit genoem het nie. Eerder ’n groen doringboom in die Klein Karoo. Die ding is, Mark was solied en ’n klomp van ons was aanhangers van hom. Die wêreld is armer sonder Mark van Wyngaardt.
“Ek was altyd baie beïndruk wanneer Mark so ywerig notas neem tydens kruisondervraging. Duidelik het ek ’n impak gemaak en was my kliënt mos op pad om onskuldig bevind te word, net om eendag uit te vind dat hy sketse van my teken in die hof omdat ek hom so verveel.”
Volgens Lekhuleni was Van Wyngaardt ’n institusie van kennis “waardeur die meeste van ons kon leer, ’n fontein waaruit ons ons dors kon les.
“Die regbank is een van die arms van regering wat die vertroue van die gemeenskap geniet en dit is te danke aan die werk van mense soos ons ontslape kollega.”
Volgens Lekhuleni het Van Wyngaardt geleef vir menslikheid. “Hy was ’n dienskneg tot diens van humaniteit. Hy het verstaan dat van diegene aan wie baie gegee is, ook baie verwag word. Hy het ook verstaan dat ons lewens nie in jare gemeet word nie, maar aan die lewens van die mense met wie ons in aanraking kom.
“Ons groet ’n man wat eties was, toegewy aan die roeping van sy professie.”
Tommy Verreyne, streekhofbeheeraanklaer en huisvriend, het in sy kort huldeblyk Van Wyngaardt geloof vir sy skerpsinnigheid. “Ek sal sy klop aan my kantoordeur ook mis.”
Volgens Michelle Weyers, senior streekhofaanklaer, sal sy Van Wyngaardt onthou as ’n man wat vir een en almal respek gehad en respek afgedwing het.
Areabestuurder Royden Boonzaaier het Van Wyngaardt as ’n hardwerkende man beskryf. “Baie mense sou lankal ophou werk het, maar nie hy nie.”