Rina en Kobus Barnard met hul 50ste huweliksherdenking in 2013. Foto verskaf
’N OUDTSHOORNIET wat in sy jonger dae een van Die Hoorn se gereeldste briefskrywers was, Kobus Barnard (77), is verlede Woensdag (22 November) in die Oudthoorn Hospitaal oorlede.
Barnard se briewe met staaltjies uit sy verlede was gewild by baie lesers.
Volgens sy seun, Kobus, die eienaar van JJ Bikes, is sy pa drie en ’n half weke voor sy dood in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem en aanvanklik vir hoë bloeddruk behandel. Ander komplikasies het egter ingetree.
Barnard is Dinsdag veras en sy naasbestaandes beoog om Saterdag om 13:00 sy as by die tweede aftrekplek op die Outeniquapas te gaan strooi. Dit is dieselfde plek waar die familie verlede jaar die as gestrooi het van Barnard se oudste dogter, Elsabe Pretorius, wat aan kanker gesterf het.
Barnard word oorleef deur sy vrou, Rina, twee kinders, Kobus en Anna-Marie Craw wat in Engeland woon, en vier kleinkinders.