INWONERS en boere van die Ladismith-omgewing was verheug toe ’n konvooi voertuie van die Water Warriors Ladismith Saterdag binnegery het. Hierdie keer egter het die Water Warriors meer as net water gebring.
32 voertuie vanuit Kaapstad, George en Gauteng het water en ander broodnodige lewensmiddele kom aflewer. Deon Smit, stigter van die Water Warriors, sê hulle het oproepe en e-posse van boere uit die omgewing ontvang, waarin die nood van families duidelik was. Hulle het binne twee maande dié uitreik beplan met die mikpunt om ten minste 150 gesinne te help.
Skenkings is ook ontvang van Meals-on-Wheels, wat basiese voedselpakkies voorsien het, terwyl skenkings ontvang is vir die basiese behoeftes van vroue asook versierde geskenkpakkies vir kinders. Trane van dankbaarheid het geloop, iets wat die helpers aangegryp het.
Die brandstof en diesel om die skenking Ladismith toe te bring is deur vrywilligers wat met die skenkings gehelp het, voorsien, terwyl die bestuurder van ’n groot vragmotor, Basil Wynne,ook sy dienste gratis aangebied het.
Volgens Smit begin hulle dadelik na so ’n uitreikaksie weer aan ’n volgende uitreik werk. Enigiemand wat ’n skenking wil maak of wil help kan die groep South African Water Warriors op Facebook vind. (Deur Deon Meyer)
Water Warriors bring hoop
Die stigter van die Water Warriors, Deon Smith, en ander helpers by die kospakkies wat hulle vir Ladismith gebring het. Foto: Deon Meyer