Vryburgers bederf by Helen Bellinganhof

Die Oudtshoorn Vryburgers, wat hulself beskryf as ’n Afrikaanse diens­organisasie wat uitreik na die gemeenskap waar daar nood is, het Dinsdag (6 Desember) die inwoners van Helen Bellinganhof Aftreeoord op Oudtshoorn gaan verras met “bederfboksies” (INLAS) gevul met lekkernye vir Kersfees. Hier is, agter, lede van die Vryburgers met suster Colleen Fourie (middel), bestuurder van die aftreeoord. Voor is van die oord se inwoners. Volgens Vryburger-basuin, Fanie Fourie, is 230 sulke boksies aan die inwoners van die aftreeoord oorhandig. ’n Wynveiling, wat elke jaar baie ondersteuning geniet, het volgens Fourie gesorg vir hierdie boksies, saam met plaaslike sakelui wat bygedra het. Die Vryburgers het gehoor dat die inwoners graag lekkernye wil hê, en nie sepies en roompies nie, skerts Fourie. PnP by die Queen’s winkelsentrum, sowel as Mugg & Bean, het bygedra om die bederfboksies ekstra spesiaal te maak. Foto’s: Stefan Skapie Goosen