Gesin bederf kinders op Jeugdag

Steven Willemse en sy gesin deel sop en broodjies uit. Foto: Garnett Wicomb

“ ’N BAKKIE sop en ’n broodjie is miskien vir baie ’n kleinigheid, maar vir menige wat swaarkry in dié tyd van die pandemie beteken dit die wêreld. Die dankbaarheid en glinstering in die kinders se oë maak alles die moeite werd.”

So sê Steven Willemse van Swigelaarstraat, Bridgton, wat op Jeugdag saam met sy gesin sop en broodjies aan ’n groot aantal kinders uitgedeel het.

Die Willemse-gesin, wat die afgelope vier jaar gereeld ’n Kerfeespartytjie vir die straat en omgewing se kinders en volwassenes aanbied, het op Jeugdag ook uitgereik na die kinders en ’n reuse pot sop voorberei en broodjies gebak.

“Ons het besluit om in die pandemie nog iets te doen om ’n bydrae te lewer tot die swaarkry van baie,” sê Willemse.
Volgens hom is hy groot dank verskuldig aan die bestuur van die KKNK wat ’n ruim bydrae tot die sopbestanddele gelewer het.

“Dit gaan moeilik met almal van ons, maar daar is maniere hoedat ons mekaar se hande kan vat.”

Die gesin beplan om in die toekoms nog sulke uitreikings aan te pak.

Hulle kon as gevolg van die pandemie nie verlede jaar hul Kersfeespartytjie aanbied nie, maar het nogtans etes en geskenke aan sowat 100 senior burgers by hul huise gaan aflewer. Hulle hoop om vanjaar weer hul Kersfeespartytjie te hou.

“Ons hoop vir beter tye en dat ons vanjaar sommer ’n groot makietie sal kan hou,” sê Willemse. (Deur Garnett Wicomb)