Twee nuwe boeke vir skrywer Kobus Minnie

Kobus Minnie met sy twee nuwe boeke, Rooikappie en die lockdown en ander stories en ’n kortverhaalbundel getitel Die ander man, wat beide nou teen ’n spesiale prys by sy uitgewer te koop is. Foto verskaf

DIE Oudtshoorniet Kobus Minnie spog nou met vier boeke wat al uit sy pen verskyn het!

Kobus sou sy nuutste twee boeke, Rooikappie en die lockdown en ander stories en ’n kortverhaalbundel, Die ander man, Saterdag amptelik by ’n ontbytgeleentheid op Oudtshoorn bekend gestel het, maar dié planne het gesneuwel met die instelling van Vlak 4-regulasies wat byeenkomste verbied.

Kobus vertel hy is ’n depressielyer wat aan chroniese depressie ly as gevolg van breinbeserings wat hy opgedoen het toe ’n gevangene hom aangerand het terwyl hy by die Departement Korrektiewe Dienste gewerk het.

Die aanranding het ook sy korttermyngeheue aangetas.

Om te skryf is vir hom terapeuties en ’n manier waarop hy sy gevoelens en ervarings kan deel.

“Al sukkel ek met depressie, weet ek daar is altyd hoop. En wie weet, iewers is daar dalk net iemand vir wie my skryfwerk iets beteken.”

Sy twee ander boeke, die kinderboek Jan Dassie se Avonture, en ’n digbundel, ABC van emosies, het verlede jaar verskyn.

Kobus se boeke is tot 4 Julie teen ’n spesiale afslag van 50% aanlyn by Malherbe Uitgewers te koop by https://www.malherbe-uitgewers. co.za as deel van hul verjaarsdagaanbod.

Boeke kan ook by Kobus self gekoop word (WhatsApp hom by 064 813 4955).

Om die 50%-afslag te kry sal hy egter bestellings en betalings nie later nie as vandag (1 Julie) moet ontvang. (Deur Liesel le Roux)