POLISIEMAGTE in die Suid-Kaap het vandeesweek toegeslaan op dwelmafsetpunte in en om Oudtshoorn, en kon weens inligting ontvang van die publiek rakende onwettige aktiwiteite, sowel as inligting ingesamel tydens ondersoeke, verskeie verdagtes in hegtenis neem en groot hoe-veelhede dwelms konfiskeer.
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het misdaadvoorkomingsaksies in veral Oudts- hoorn, Dysselsdorp en George as deel van Operasie Vhutu Hawe gelei tot die beslaglegging op dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R1 miljoen.
Die operasie het Donderdag (24 Junie) om 06:00 afgeskop met onder meer nakomingsinspeksies, padblokkades en voertuigkontrolepunte, stop-en-deursoekings en die sluiting van dwelm- sowel as drankafsetpunte.
Spies sê lede verbonde aan misdaad intelligensie, die Attaqua K9 Honde-eenheid en die Eden Kluster se misdaadspan het omstreeks 19:30 die aand toegeslaan op ’n huis in 15de Laan, Bongolethu. Volgens Spies het polisiebeamptes die perseel deursoek en 538 Mandrax-tablette en 2.5 kg Tik in ’n sak in ’n pakkamer gevind. ’n 44-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van die handel in dwelms.
Die misdaadvoorkomingsaksie is voortgesit by ’n huis in 9de Laan waar polisiemagte klein hoeveelhede Mandrax-tablette gevind het. ’n 21-jarige vrou is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel.
As deel van die optrede is 69 verdagtes opgespoor en in hegtenis geneem op uitstaande lasbriewe.
Vrydag is ’n perseel in Thabo Mbeki Square, Bongolethu deursoek en 203 g Tik gevind. ’n 30-jarige man, volgens Spies ’n bekende persoon, is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel.
In Dysselsdorp het die polisie, nadat inligting van die publiek ontvang is, by ’n perseel by Bernardus Gronde ondersoek gaan instel.
Die deursoeking van die perseel het gelei tot die beslaglegging op 101 kwarte van Mandrax-tablette, ses heel Mandrax-tablette, 69 bankies Tik en 18 SASSA-kaarte. Polisiebeamptes ook beslag gelê op R14 619.10 – na bewering die opbrengs van onwettige aktiwiteite.
Volgens Spies is drie verdagtes van 25, 30 en 31 jaar oud in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelms, en ook vir oortredings van die Nasionale Kredietwet.
Alle verdagtes sal volgens Spies in die hof verskyn nadat hulle aangekla is.
Genmaj Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale kommisaris van die Wes-Kaap, het lede verbonde aan die misdaadvoorkomingsaksies geloof vir hul toewyding.
“Die ontplooiing van hulpbronne in misdaadgeteisterde gebiede sal voortgaan om te verseker dat die publiek veilig is en voel,” het sy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Polisie tree op teen dwelms
Van die dwelms en kontant wat deur die polisie gevind is. (Foto verskaf)