Vrou agt jaar tronk toe vir babamoord

’N VROU van Dysselsdorp wat aan moord op haar pasgebore babaseuntjie skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Haroldene Korkee (42), ’n ma van drie kinders en ouma van een kleinkind, het op 15 Oktober 2019 in ’n toilet geboorte aan die seuntjie geskenk en geweier om op te staan toe vroue haar wou help.

Die hof het gehoor dat Korkee in April 1999 ook probeer het om haar eerste kind te vermoor deur haar na geboorte in ’n gangetjie in Adonisweg, Dysselsdorp, met sand toe te gooi. Die ondersoekbeampte, ao Etienne Kuhn, het ter strafverswaring getuig dat mense Korkee die betrokke oggend na die gangetjie sien stap en terugkeer het na haar huis met bloed wat langs haar bene afloop.

Sy is vir dié misdryf ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar tronkstraf asook twee jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisopleging gesê Korkee het nie ’n les geleer uit haar vorige vonnis vir poging tot moord nie. Sy is nou weer aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind en toon geen berou nie.

Oor ’n pleidooi dat sy by haar kinders wil wees het die hof bevind dat sy voorheen lank in Kaapstad gewerk het en ’n afwesige ma was. Haar jongste kind word binnekort 18 en is gelukkig by haar ouma.

Die hof het egter die trauma wat die beskuldigde moes deurmaak in ag geneem, maar bevind dat ’n opgeskorte vonnis nie gepas sal wees nie. (Deur Garnett Wicomb)