
Die Vollie-museumkomitee is van links George Piedt, David Piedt, Claude Simon, Farouk Wicomb en Johan Benson. Die sesde lid van die komitee, Stephen Adams, is onlangs oorlede. Foto: Garnett Wicomb
‘Ware nalatenskap en erflating vir baie geslagte’
Deur Garnett Wicomb
DIE uitstalling van memorabilia van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) in die Rembrandtsaal van die CP Nel Museum is Saterdagaand geopen en deur sowat 250 oud-studente (Vollies) en hul gades bygewoon.
Die kollege, wat in 1996 na 44 jaar eensydig deur die onderwysowerhede gesluit is, het volgens die laaste rektor, Lionel Tait (1982 – 1996), meer as 15 000 onderwysers opgelei terwyl 1 500 deeltydse studente hul kwalifikasies daarna verbeter het.
Tait het die uitstalling as ’n ware nalatenskap en erflating vir baie geslagte beskryf.
“In my bykans veertien jaar wat ek by ons geliefde kollege deurgebring het, het dit vir my duidelik geword dat hierdie inrigting hom onderskei het van al die ander onderwyskolleges destyds in ons land. OKSK was ekstra spesiaal.”
Volgens Tait was die sosiale, ekonomiese en kulturele impak wat die kollege op die Groter Oudtshoorn gehad het, onmeetbaar.
Twee hoogtepunte van sy tydperk as hoof was die eerste diplomaplegtigheid wat hy in in 1990 geïnisieer het en die vennootskappe wat in dieselfde jaar met Unisa, die UWK en die Universiteit van Stellenbosch (US) aangegaan is. Die inrigtings het sekere vakke as eerstejaarvakke aanvaar indien studente dit in hul derde jaar aan die kollege geslaag het en daarmee wou voortgaan.
“Die diplomaplegtigheid het ’n hernude sin van trots en waardigheid by ons studente, hul ouers en die gemeenskap van Oudtshoorn teweeg gebring.”
’n Minder aangename aangeleentheid by die kollege was toe 110 studente tydens die 1985-studente-onluste deur die polisie in hegtenis geneem en borgtog aanvanklik geweier is.
Saam met die destydse voorsitter van die kollege adviesraad, ds Pieter Pietersen, is hulle egter later elk op borgtog van R50 vrygelaat.
Tait, huidige voorsitter van die CP Nel Museum se trustkomitee, het die Vollie-museumkomitee geluk gewens met die uitstalling in vier glaskaste asook drie foto-“swaaiboeke” en dit as ’n groot bate vir die museum en Oudtshoorn bestempel.
Die eerste bruin dosent van die kollege, Ronnie Burton, wat vir 23 jaar by die kollege betrokke was, het vertel hoe hy nie saam met die res van die wit personeel tee kon drink en ook nie personeelvergaderings kon bywoon nie.
Nadat nog bruin dosente aangestel is, het hulle op ’n dag besluit om te staak. “Dinge is toe reggestel,” het Burton onder groot toejuiging gesê.
“Ek het my beste jare in die onderwys by OKSK deurgebring; ’n kollege wat wonderlike standaarde gestel en uitgestaan het.”
Volgens David Piedt, lid van die Vollie-museumkomitee, het die afgestudeerde onderwyers van OKSK in die apartheidsjare nooit “ons kinders in die steek gelaat nie. Ons het ons werk met waardigheid uitgevoer en nie vir die kinders gesê watter pad om te volg nie.”
Volgens hom is die uitstalling slegs die begin van ’n aaneenlopende proses.
Een van die eerste studente van die kollege, Manual Santi (1953/54), het sy dank teenoor die gemeenskap en veral die losiesouers van weleer uitgespreek.
“Hier was nie ’n hostel nie en ons het by inwoners van die Ou Kas (’n benaming vir Ou Bridgton) tuisgegaan en hulle het hulself tekort gedoen vir ons.
“Suid Afrika het sy beste onderwysinrigting met die sluiting van OKSK verloor,” het Santi gesê.
Die koördineerder van die Vollie-museumkomitee, wat tydens ’n Vollie-reünie in 2014 in George in die lewe geroep is, Farouk Wicomb, het die Vollies wat die uitstalling met hul skenkings moontlik gemaak het bedank.
“Die ruimte is eintlik nie groot genoeg vir wat ons alles ontvang het nie.”
Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het in ’n boodskap wat deur raadslid Pieter Luiters voorgelees is, ’n beroep op alle oud-studente van die kollege gedoen om steeds as mentors by skole in hul dorpe en omgewings betrokke te bly.
Luiters het ’n beroep op die Vollies gedoen om te dink aan die oprigting van ’n muur van herinnering, waarvoor hy persoonlik ’n finansiële bydrae sal lewer.
Een oud-leerder van die laaste groep van 30 eerstejaarstudente in 1996, Glen Snyman, het ’n beroep op die Vollies gedoen om, net soos die oorlewendes van die Titanic, voort te gaan om die storie van die kollege te vertel.
“Die sluiting van die kollege was ’n baie hartseerdag,” het hy gesê.
’n Vollie-boek oor die geskiedenis van die kollege, saamgestel deur Farouk Wicomb, is ook Saterdagaand bekend gestel en te koop teen R150.
• Die kollege het in 1952 in ’n gehuurde gebou van die NG Sendingkerk, vandag De Villiers Primêr, in drie klaskamers en met 24 studente, as die Oudtshoorn Kleurling Opleidingskollege begin. Mnr L van der Merwe was die eerste rektor. Dit het in 1953 verskuif na ’n hout-opslaangebou, later die Laerskool Protea en vandag die Hoërskool Protea.
In 1966 is verhuis na ’n meer doelmatige kollege en hostel in Springbokweg, vandag die Aurial Kollege.