
Daniël Terblanche (regs) en Etienne Swiegelaar (middel agter) van The Black Swan met die tweede Klein Karoo Smulpaaptoekenning wat die restaurant ontvang het. By hulle is Francois Ferreira (links) en Ann Hadley, die twee koskenners wat die Smulpaaptoekennings geïnisieer het.
Erkenning gegee aan gehalte
THE BLACK SWAN RESTAURANT & WINE BAR is een van net ses eetplekke op Oudtshoorn wat die 2016 Klein Karoo Smulpaaptoekenning (Gourmand Award) ontvang het.
The Black Swan het boonop ’n toekenning ontvang in die afdeling vir restaurante, waarin die mededinging volgens die glanskok Francois Ferreira, uiters taai was.
Die restaurant kan nou ook spog dat hulle elke jaar sedert hulle hul deure middel 2014 geopen het, met ’n Smulpaaptoekenning vereer is – naamlik in 2014 en 2016.
Die toekennings is nie in 2015 toegeken nie omdat die kompetisie geherstruktureer is met die uitbreiding van eetplekke langs die R62. Vanjaar is 24 eetplekke van Montagu tot in De Rust in vier ka-tegorieë vereer.
Dié gesogte Smulpaaptoekennings is tydens ’n gesellige geleentheid op Vrydag, 10 Februarie, op Oudtshoorn aan die wenners oorhandig.
Daniël Terblanche, mede-eienaar van The Black Swan, sê hulle beskou dit as ’n besonderse eer om weer ’n Smulpaaptoekenning te ontvang.
Die Klein Karoo Smulpaaptoekennings gee erkenning aan die volgehoue hoë gehalte van kos en die volgehoue goeie diens aan kliënte, en neem die hele eetervaring van kliënte in ag.
’n Trotse Etienne Swiegelaar en Daniël Terblanche het hul personeel bedank vir hul toewyding en harde werk wat dit weer vir hulle moontlik gemaak het om ’n Smulpaaptoekenning te ontvang.
“Met hul toewyding en ondersteuning het ons bo ons eie en ander se verwagtinge uitgestyg. Ons deel graag ons sukses met trots met ’n ieder en ’n elk.
“Baie dankie aan al ons lojale kliënte vir jul ondersteuning.”
Daniël het ook die gastehuise van Oudtshoorn en omgewing bedank wat The Black Swan by hul gaste aanbeveel om te gaan eet.
Hy het ook weer The Black Swan se pendeldiens onder Oudtshoornie-te se aandag gebring. “As inwoners of besoekers wil kom uiteet en ’n paar glasies wyn of ander drankies wil geniet, kan hulle net bel. Dan sal ons Kombi hulle kom oplaai en weer veilig by hul huise of verblyf gaan aflaai.”
Volgens Daniël is hulle gereeld besig om The Black Swan en Mintt Street Café & Coffee Shop net langsaan se spyskaarte te hersien en te verbeter.
“Ons is ook besig met opgraderings by Mintt. Hou gerus hierdie spasie dop!” sê hy.