Strate sinoniem met Oudtshoorn: Baron van Reedestraat en Langenhovenweg

TWEE strate op Oudtshoorn wat sinoniem met toerisme in dié grootvoëlparadys is, is Baron van Reedestraat en Langenhovenweg.

Baron van Reedestraat – ook bekend as Oudtshoorn se ‘goue myl’ – neem jou uit in die rigting van die asemrowende Swartberge, verby verskeie besienswaardighede, die pragtige Schoemanshoek, tot by die internasionaal-bekende Kango Grotte. Dit lei jou ook na die klein dorpie van Prins Albert.

Langenhovenweg is die begin van jou reis na George en die pragtige kusdorpe Wildernis, Sedgefield, Knysna en Plettenbergbaai. Dit is ook waar die Outeniqua-berge ver oor die horison strek.

Maar wie was Baron van Reede, en hoekom is Langenhoven so verbonde aan Oudtshoorn?

Volgens die webwerf Wikipedia was baron Pieter van Reede van Oudtshoorn (8 Julie 1714 – 23 Januarie 1773) – sy volle naam, let wel – ’n senior amptenaar en goewerneur in die Nederlandse Kaapkolonie. Hy is in 1772 as goewerneur van die Kaapkolonie aangestel om die afgestorwe goewerneur Ryk Tulbagh op te volg. Hy sterf egter tragies ter see op pad na die Kaapkolonie om sy pos te aanvaar.

Oudtshoorn is na hom vernoem en hy is die stamvader van die gesin Van R(h)eede van Oudtshoorn in Suid-Afrika. Die wapen van die munisipaliteit is gebaseer op die wapen van dié Nederlandse familie.

Meeste Oudtshoorniete weet wie Cornelis Jacobus Langenhoven was. Hy was ook bekend as Sagmoedige Neelsie of Kerneels. Volgens Wikipedia was CJ Langenhoven (13 Augustus 1873 – 15 Julie 1932) ’n Suid-Afrikaanse digter wat ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde en kultuurgeskiedenis. In 1914 word hy as parlementslid verkies (eers as lid van die Volksraad en later as senator), waar hy die stryd om Afrikaans amptelik te erken as taal tot die volgende vlak geneem het. Hy was ook ’n stigterslid van die Afrikaanse koerant Die Burger, en ’n Suid-Afrikaanse Vrymesselaar.

Langenhoven is bekend as die skrywer van Suid-Afrika se eerste nasionale volkslied, Die Stem, wat in 1918 geskryf is. Sy huis op die dorp, Arbeidsgenot, is in Jan van Riebeeckweg.

Nog interessanthede oor die strate

  • Baron van Reedestraat was eers Koninginstraat genoem. Dit is nie net die begin van die roete na die Kango Grotte en die tuiste van hotelle, gastehuise, restaurante en verskeie sake-ondernemings nie, maar ook bekend vir sy pragtige historiese geboue.

    Baron van Reedestraat word jaarliks opgetooi tydens die KKNK en was al dikwels die begin- of eindpunt van groot fietswedrenne asook die jaarlikse straatmyl in Desember.

    Van die bekendste geboue in dié straat is die CP Nel Museum, die Queen’s Hotel, die Prince Vintcent-gebou op die hoek met Kerkstraat, Mimosa Lodge (die eerste predikant van die NG Moederkerk se woning) en die Joodse sinagoge.

    Ander ou geboue wat ’n unieke karakter aan dié straat verleen, is onder meer Montague House, die Presbiteriaanse Kerk, St Jude’s-kompleks, Gottlandhuis, Oakdene Gastehuis en die ou Oudtshoorn Gevangenisgebou. Die pragtige huis in Baron van Reedestraat 146, wat in die 1860s gebou is, het aan ene Mej. Hudson, ’n goewernante van Pauline Smith, behoort. Smith was veral bekend vir haar boek “Story of an African Farm”.

    Die huis op die hoek van Baron van Reede- en Victoriastraat, het al verskeie besighede gehuisves, onder meer ook die restaurant Bello Cibo.
  • Voortrekkerweg, een van Oudts-hoorn se oudste strate en ’n hoofroete deur die dorp, was aanvanklik met die opmeting van die dorp in 1847 bekend as Markstraat. Dit is in 1938 met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek na Voortrekkerweg herdoop.
    Daar is beplan dat die plein op die kruising met Langenhovenweg die sentrale punt van die dorp moet wees en dit is Market Square genoem. Dekades later is dit na Verwoerdplein herdoop.

Vroeër jare was daar ’n park op die terrein waar die Burgersentrum nou staan, met fonteine, standbeelde, ens. Trappe het gelei na die “Recreation Grounds” waar sportgeleenthede aangebied is en ander vertonings plaasgevind het. Die ou pawiljoen is in 1894 deur die Recreation Grounds Company opgerig – vandaar die naam wat almal ken: die “Rec”. (Deur Die Hoorn redaksie)