Oudtshoorn RFC: ’n Rugby-erfenis

1898 se Oudtshoornrubyvoetbalspan. Foto: Pieter Meyer

Oudtshoorn Rugby Football Club (Oudtshoorn RFC) staan as een van die oudste en mees gerespekteerde rugbyinstellings in die Suid- Westelike Distrikte (SWD), met ’n geskiedenis wat diep gewortel is in die ontstaan van rugby in die Klein Karoo.

Volgens oud-klubpresident en voormalige speler, Pieter Meyer, word Oudtshoorn saam met George beskou as die tweede oudste rugbyklubs in die SWD, met Mosselbaai wat slegs ’n jaar vroeër in 1882 ontstaan het. Meyer, wat self tussen 2005 en 2008 president van die klub was, beskik oor uitgebreide kennis van die klub se geskiedenis en tradisies.

Vroeë begin van rugby in Oudtshoorn: Rugby in Oudtshoorn is reeds so vroeg as 1870 gespeel toe jong mans uit die Oos-Kaap, wat grensdiens in die streek verrig het, met die spel kennis gemaak het. Hulle het die sport na bewering by Britse setlaars geleer en dit daarna in die dorp gevestig.

Die formele organisering van rugby in die streek het later gevolg, met die stigting van die Suid-Westelike Rugbyunie in 1897, waartydens George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Riversdal die eerste lede van die klub was.

Stigting van die klub en vroeë jare: Volgens Meyer was Charles Anderson die eerste voorsitter van die Oudtshoorn Rugbyklub. Die klub het sy plek gevestig in die streek se vroeë rugbyontwikkeling en het vinnig ’n sterk mededingende tradisie opgebou. Die REC-sportterrein was van die begin af die tuiste van die klub.

Die bekende “Groen Pawiljoen” het reeds in die 1840’s as ’n pawiljoen vir perdewedrenne bestaan, hoewel die presiese datum onseker bly. Nadat perdewedrenne daar gestaak is, het rugby en krieket die veld oorgeneem en dit in ’n sportsentrum omskep.

Springbok-geskiedenis en plaaslike legendes: Oudtshoorn RFC het sy eerste Springbok reeds in 1903 opgelewer, en nog een in 1906. Sedertdien het die klub ’n lang lys spelers wat nasionale eer verwerf het.

Onder die vroeë en bekende name wat met Oudtshoorn rugby verbind word, tel:

  • Willem Barnard (1951–1952)
  • Frans Erasmus
  • Anton Leonard
  • Loftie Fourie
  • Hansie Brewis
  • André Bestbier

Daar word ook genoem dat spelers soos Petri Wannenburg en Kabamba Floors uit die streek se rugbystrukture tot Springbok-status gevorder het. Volgens Meyer was Anderson self die dorp se eerste Springbok in 1903, met Burdett wat in 1906 gevolg het.

Een van die mees ikoniese plaaslike spelers was Saag Jonker, wat in 1967 aan die finale Springbokproewe deelgeneem het en wyd as een van Oudtshoorn se mees talentvolle spelers beskou word.

Klubtradisie en prestasies: Oudtshoorn RFC het oor die jare ’n sterk wenkultuur ontwikkel en die Groot Uitdaagbeker reeds 44 keer ingepalm.

Die klub het ook spelers van buite die streek verwelkom wat later Springbokke geword het, wat die klub se rol as talentkweekplek verder beklemtoon.

Moderne era en klubleierskap:
Die klub se huidige afrigter is bekende sakeman Harry Coetzee, en het die leisels in 2025 oorgeneem. Oudtshoorn RFC is meer as net ’n rugbyklub. Dit is ’n instelling wat verweef is met die geskiedenis van die dorp self. Soos dr. Danie Craven eens gesê het: “Die spel sal altyd groter as die individu wees.”

Met ’n erfenis wat meer as ’n eeu strek, bly Oudtshoorn RFC ’n simbool van trots, tradisie en volgehoue rugbygees in die Klein Karoo.

Oudtshoorn RFC se 2de span. Foto verskaf

So lyk die punteleer op 16 Mei 2026:

A-Spanne:

  1. Jaguars – 34
  2. George – 27
  3. Oudtshoorn – 26
  4. Seagulls – 25
  5. Eagle Stars – 19
  6. Uniondale – 16
  7. Knysna – 14
  8. Happy Hearts – 13
  9. Albertinia – 11
  10. Riversdal – 10
  11. Prince Albert – 5
  12. Collegians – 0

B-Spanne:

  1. Seagulls – 26
  2. Knysna – 22
  3. Eagle Stars – 21
  4. Albertinia – 19
  5. Oudtshoorn – 19
  6. Jaguars – 18
  7. George – 17
  8. Happy Hearts – 15
  9. Uniondale – 13
  10. Prince Albert – 7
  11. Collegians – 2
  12. Riversdal – 1

Lees ook:

Oudtshoorn vs George: Ou teenstanders ontmoet weer na 14 jaar