Oudtshoorn vs George: Ou teenstanders ontmoet weer na 14 jaar — maak gereed vir groot rugbydag

Oudtshoorn RFC se manne in aksie. Die naweek se kragmeting tussen Oudtshoorn RFC en George Rugbyklub beloof om toeskouers op die punt van hul stoele te hou. Foto’s verskaf

Die rugbygees gaan Saterdag, 23 Mei, hoog loop wanneer Oudtshoorn RFC en George Rugbyklub mekaar vir die eerste keer in bykans 14 jaar op die REC-sportveld in Oudtshoorn pak.

Die twee historiese SWD-rugbyklubs het oor die jare al talle taai derby’s opgelewer, maar ondersteuners moes lank wag vir ’n kragmeting tussen die twee spanne. Volgens beskikbare rekords was die laaste ontmoeting tussen die klubs in 2012.

Vir rugbyliefhebbers beloof dié rugbydag om ’n gevoel van nostalgie en trots te wek. Beide klubs het diep wortels in SWD-rugby en is van die oudste rugbyklubs in die streek. Oudtshoorn Rugbyklub, wat reeds in 1883 gestig is, het oor dekades heen ’n belangrike rol in die ontwikkeling van rugby in die Klein Karoo gespeel.

Lees: Oudtshoorn RFC: ’n Rugby-erfenis

Die tuisspan hoop om die momentum van hul onlangse sterk vertonings voort te sit. Oudtshoorn RFC het die afgelope paar seisoene hul staal in plaaslike rugbywedstryde gewys, met verskeie indrukwekkende oorwinnings op eie bodem.

Hierdie beloof om ’n rugbykragmeting vir die boeke te wees wanneer die twee ou teenstanders mekaar weer in die oë kyk. Vir die spelers gaan dit oor meer as net punte op die telbord. Dit gaan oor trots, geskiedenis en die voorreg om met breë bors vir hul dorp op die veld uit te draf.

Die dag se wedstryde begin reeds vroegmiddag:

  • C-span: 14:00
  • B-span: 15:15
  • A-span: 16:30

Die Hoorn het met beide spanne se afrigters, asook eerstespankapteins gesels, en hier is wat hulle te sê het oor Saterdag:
Harry Coetzee, afrigter van Oudtshoorn RFC, sê hy sien uit na ’n besondere rugbydag en vertrou dat albei spanne hul beste op die veld sal lewer.

Hy voeg by dat ‘n groot rugbywedstryd vinnig verbyvlieg en dat die eindfluitjie blaas voor ’n mens jou oë kan uitvee.
“Hierdie is ’n groot kragmeting en George is ’n sterk span, maar albei spanne het nuwe jong spelers wat hul harte gaan uitspeel, en dit gaan mooi wees om te aanskou,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Hy sê klein foutjies, soos die afstaan van strafskoppe en akkuraatheid wanneer na die pale gemik word, kan die uitslag van die dag bepaal.

“Dit gaan alles oor die spelers wat opdaag en bereid is om hul volle gewig in te gooi. As jou span reg is en almal is toegewyd, verloop dinge gewoonlik goed. Maar sodra ’n span nie van die begin af aanskakel nie, kan dit ’n lang dag op die veld word.

“Ek sê altyd ’n span moet opdaag vir die wedstryd. Daarmee bedoel ek nie net om fisiek daar te wees nie, maar om met hart en siel te speel en alles vir jou spanmaats en jou klub te gee.

“Wanneer ’n span die basiese beginsels van rugby reg toepas en gedissiplineerd speel, kan hulle baie ver kom,” sluit hy af.
Jonathan Botha, George se afrigter, sê die wedstryd gaan vir beide spanne ’n groot toets wees. “Dit is twee sterk spanne, en dit gaan ’n fisieke wedstryd wees met die voorste spelers wat die leisels neem,” vertel hy.

Hy voeg by dat hulle daarna uitsien om teen hul bure te speel, en dat dit vir hom as speler altyd lekker was om in die verlede in Oudtshoorn te speel.

“Die span met die beste dissipline en wat hul kanse die beste benut, gaan die wedstryd wen,” sluit hy af.

Hier is wat die kapteins te sê het:
Larry Paulse, van Oudtshoorn RFC se eerstespan, het aan Die Hoorn gesê hulle sien baie uit na die wedstryd.
“Die voorbereiding hierdie week was goed en die manne het hard gewerk, maar ons weet ons opponente gaan vir ons ’n groot uitdaging wees.”

Hy sê dit gaan vir hulle belangrik wees om by hul spelplan te hou, dissipline te handhaaf en die klein goedjies reg te doen.
“Op die einde van die dag fokus ons nie te veel op die geraas rondom die wedstryd nie, maar op ons eie standaarde en wat ons as span wil bereik,” sluit hy af.

Bennett Nortje, van George Rugbyklub se eerstespan, sê hulle is opgewonde en sien uit na die wedstryd.
“Daar was ’n goeie gees by oefening hierdie week en ons verwag ’n fisieke wedstryd. Agter het ons baie spoed, so daar behoort baie hardlooprugby te wees.

“Op die einde van die dag gaan dit oor watter span dit die graagste wil wen. Die span wat die hardste werk, die minste strafskoppe afstaan en die beste van sy geleenthede gebruik maak, sal die wedstryd wen.” Hy sluit af dat dit ’n lekker wedstryd gaan wees.

Die Hoorn het ook met Ean Eygelaar gesels. Hy is Laerskool Wesbank se sporthoof, asook een van die afrigters vir die o. 13-
Cravenweekspan, maar ook ’n oudspeler van George Rugbyklub.

“Dit is beslis ’n voorreg dat die twee spanne weer kragte kan meet,” sê hy.

“Die George-span het ’n klomp nuwe jong manne, terwyl Oudtshoorn se span verlede jaar hul seisoen gewen het.

“Dit gaan moontlik die taaiste wedstryd vir beide spanne wees, en tussen George se nuwe manne en Oudtshoorn se ervaring gaan dit ’n naelskraap wen wees.”

Hy wens albei spanne sterkte toe, maar erken dat sy steun as oud-Georgie wat deesdae in Oudts-hoorn woon, effens na George se kant toe skuif.

Moenie een van die drie wedstryde misloop nie en sorg dat jy vroeg jou plek op die pawiljoen inneem om teleurstelling te voorkom. Toegang kos R20 vir volwassenes, R10 per kind en R10 per voertuig. Toeskouers is ook welkom om op die groenpawiljoen te sit vanaf 14:00. Vir meer inligting, skakel gerus vir Jene Snyman by 083 287 6574. (ANGELIQUE ERASMUS)