AfriForum se Dink of Sink-span het op 8 Mei die tweede van ses provinsiale uitdunrondtes vir hoërskooldebatteerders by DF Akademie in Kaapstad aangebied.
Die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie bied belowende jong debatteerders die geleentheid om hul vaardighede op die proef te stel.
Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laer-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl deelnemers terselfdertyd waardevolle vaardighede ontwikkel wat hulle in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Altesaam 159 leerders van 16 hoërskole in die Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem.
Die deelnemende skole was Langenhoven Gimnasium, DF Akademie, Hoërskool Stellenberg, Hoër Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Swartland, Hoërskool Langenhoven, Worcester Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoërskool Paarl Gimnasium, Hoërskool Durbanville, Parow Hoërskool en Hoërskool Stellenbosch.
Altesaam 53 spanne het elk drie debatte oor verskeie aktuele onderwerpe gevoer.
“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglike voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir onderwys in die suidstreek.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” het Müller gesê.
Drie graad 12-leerders van Langenhoven Gimnasium, Mieke Erasmus, Jean Joubert en Anke Matthee, het die skool by die kompetisie verteenwoordig.
Die span het hul drie uitdunrondes gewen:
- teen Hoërskool Langenhoven van Riversdal;
- teen Hoër Meisieskool Bloemhof; en
- teen Hoërskool Parel Vallei.
Tydens die gala-geleentheid is aangekondig dat die span na die halfeindronde deurgedring het. Daar het hulle teen Paul Roos Gimnasium gedebatteer oor die vraag of sportsterre as rolmodelle vir jongmense behoort op te tree. Paul Roos het die ronde gewen.
Langenhoven Gimnasium het die span gelukgewens en gesê die skool spog met uiters bekwame debatteerders wat vinnig op hul voete kan dink.
