Na die verwoestende storms wat dele van De Rust getref het, wil inwoners nou kleur, hoop en trots terugbring na die dorp – een malva op ’n slag.
Die nuwe gemeenskapsinisiatief, “Malva De Rust”, het ’n eenvoudige maar kragtige doel: elke huis in die dorp plant vyf malvas voor hul hek. Organiseerders glo dat die dorp binne enkele maande in volle blom sal staan en só ’n simbool van herstel en samehorigheid word.
“Malva’s vat min water, groei vinnig in die Karoo, en elke blom dra ’n boodskap – De Rust gee nie op nie,” sê Niekie Eksteen, een van die meesterbreine agter die projek.
Hoe kan jy help: Deur Malvasaad of klein saailinge te skenk, hulp aan te bied tydens die eerste Plant Dag of voorstelle te gee oor plekke waar geplant kan word.
Volgens die organiseerders sal die datum vir die eerste Plant Dag bekendgemaak word sodra minstens 20 huishoudings ingeskakel het.
Belangstellendes wat wil deelneem of kan help, kan vir Freda Schoeman by 083 305 9974 of Niekie Eksteen by 083 332 0577 kontak, of eenvoudig die woord “MALVA” in ’n WhatsApp boodskap stuur. (ANGELIQUE ERASMUS)
Projek – Malva De Rust, raak betrokke
