Inspirasie uit verlede skep nuwe droom vir toekoms

Foto Google Earth

Die vroeë geskiedenis van die St Nicholas van Früe Katolieke Kerk in Bridgton het in 1923 begin op die hoek van Draai en Noordstraat waar Eden Karoo Skool vandag is.

Die Duitse Pallotini-familie (priesters, broers en susters) wat ’n sendingstasie was, het die Sacred Heart Mission in 1923 gestig, wat die hart en siel van die gemeenskap geword het. Daar was ’n kerk, skool, kleuterskool asook ’n houtwerkwinkel.

Die Sacred Heart Mission het in 1924 met 3 weeskinders begin. In 1925 het die getal kinders gestyg na 16. In 1951 was daar 40 weeskinders gehuisves, almal tussen die ouderdom van 2 – 18 jaar oud.

Hierdie kinders het laerskoolopleiding ontvang en is daarna opgelei in ambagte. Die seuns het houtwerk en skrynwerk geleer. Hulle het later die RC Joinery (Roman Catholic Joinery), onder leiding van Brother Koenigh, geopen en baie van die inwoners in Oudtshoorn het daardie tyd van hul dienste gebruik gemaak.

Volgens Hazel Jonker, inwoner van Oudtshoorn en historikus, het hulle destyds die snoekerkamer op hul plaas oorgedoen met pragtige houtwerk. Die dogters is opgelei in kook, was- en strykwerk asook naaldwerk. Volgens ’n berig in die koerant van 1960 het die skool daardie jaar toestemming gekry om te skuif na ’n perseel in Bridgton.

Vir Ronelle Huysamen, skoolhoof by Eden Karoo, is dit vir hulle baie spesiaal dat hul skool op dieselfde perseel is as waar die sen-dinginstansie begin het. Die feit dat hulle die weeskinders opgelei het in verskillende ambagte en hulle as te waarde bemagtig het, is iets waarop sy wil fokus, met haar nuwe uitdaging en projek wat sy tans op die been bring.

Sy sê haar visie is om ook weer so ’n instansie te begin waar kinders nie net by die skool nuwe vaardighede geleer word nie, maar sy wil daadwerklik die ouers van gesinne wat swaarkry en min of geen inkomste verdien bemagtig deur hulle op te lei in verskillende rigtings sodat hulle vir hul gesinne kan sorg.

“Ek kom al jare in die onderwys, ek het al gesien hoe ’n ma se hart breek om haar honger kind skool toe te stuur omdat daar regtig nie geld is vir kos nie, en ook hoe daardie kind nie sy volle potensiaal kan bereik nie omdat hy honger is,” vertel sy. Sy het oor die jare verskeie programme ingestel waar daar kos aan hierdie kinders gegee is.

“Ek wil nie skenkings insamel en kos skenk nie, ek wil mense leer hoe om vir hulself kos te plant, om ’n groentetuin te verbou en so ook vir baie ander huishoudings te sorg en te leer, en so word die nood nie net verlig nie, maar daar daadwerklik ’n verskil gemaak om die probleem op te los.

Daar is ongelukkig min inligting aanlyn en by verskeie instansies beskikbaar oor die Sacred Heart Mission wat hier op die hoek van Draai- en Noordstraat in 1923 begin is. As daar enige inwoners in die dorp is wat oor inligting of foto’s beskik wat kan help om meer inligting te bekom, kan hulle dit gerus met ons deel.

Kontak Die Hoorn by 044 272 5605 of stuur ’n e-pos na redaksie@hoorn.co.za, sodat die unieke, dog belangrike gedeelte van die geskiedenis behoue kan bly.