Waarom is huur so duur?

Foto: Unsplash

Waar ’n gesin sowat 15 jaar gelede nog ’n ruim familiehuis in Wesbank, Oudtshoorn, vir ongeveer R5 000 per maand kon huur, betaal huurders vandag maklik R9 000 en meer vir ’n veel kleiner twee-slaapkamerwoning.

Die rede is hoofsaaklik eenvoudig: daar is meer mense wat huurhuise soek as wat daar eiendomme beskikbaar is.

Op Dinsdag, 11 Augustus, het Property24 byvoorbeeld net 19 huurinskrywings vir die hele Oudtshoorn-gebied getoon. Hiervan was nege huise, vyf woonstelle en slegs twee meenthuise. In Wesbank was daar net sewe eiendomme beskikbaar.

Twee-slaapkamer-eenhede is tans ge-adverteer teen pryse wat wissel van ongeveer R6 700 tot meer as R11 000 per maand. ’n Twee-slaapkamer-eenheid in Oudtshoorn-Noord word byvoorbeeld teen R9 800 aangebied, terwyl ’n twee-slaapkamerhuis in Pepperwood Lifestyle Estate R11 550 per maand kos. ’n Vier-slaapkamerhuis in Wesbank word teen R15 300 geadverteer.

Vir huurders wat ’n moderne woning, veilige kompleks, motorhuis of huis in ’n gewilde woonbuurt soek, is huur van R9 000 tot R12 000 per maand dus nie meer ongewoon nie.

Aanvraag groter as aanbod
Volgens Stats SA het die bevolking van die Oudtshoorn-munisipale gebied van 95 933 mense in 2011 tot 138 257 in 2022 gegroei.
Hoewel dié syfers die hele munisipale gebied insluit, beteken bevolkingsgroei dat daar met verloop van tyd ook meer mense is wat behuising benodig.

Die probleem ontstaan wanneer die aanvraag na huurwonings vinniger groei as die aantal nuwe eiendomme wat vir langtermynhuur beskikbaar gestel word.

Dit raak veral die middelmark – twee- en drie-slaapkamerhuise en meenthuise waarna jong gesinne, professionele mense, onderwysers en afgetredenes dikwels soek.

Volgens TPN Credit Bureau, wat in Suid-Afrika se huur- en eiendomsmark spesialiseer, het beperkte nuwe huurvoorraad en sterk vraag vakaturekoerse laat daal. In die R7 000 tot R12 000-huurkategorie was die vakaturekoers in een van hul opnames net 3,4%.

Wes-Kaap duur om te huur
Die probleem is ook nie uniek aan Oudtshoorn nie.

Volgens die PayProp Rental Index het die gemiddelde huur in Suid-Afrika in die eerste kwartaal van 2026 tot R9 582 per maand gestyg.

In die Wes-Kaap het die gemiddelde huur vir die eerste keer R12 000 per maand oorskry, met huurpryse wat binne ’n jaar met 7,4% gestyg het.

Dit beteken nie dat die gemiddelde huis in Oudtshoorn R12 000 kos om te huur nie, maar dit wys dat die dorp deel is van ’n provinsie waar huurpryse sterk styg.

Hoe raak R5 000 meer as R10 000?
Jaarlikse huurverhogings tel oor tyd vinnig op.

Indien ’n huis wat in 2011 R5 000 per maand gekos het elke jaar met net 5% verhoog is, sou die huur vandag ongeveer R10 395 per maand wees.

Teen ’n gemiddelde verhoging van 6% per jaar sou dit ongeveer R12 000 wees, en teen 7% sowat R13 800.

Dit verduidelik waarom die verskil tussen huurpryse van 15 jaar gelede en vandag so groot is.
Waar R5 000 destyds ’n ruim gesins-huis kon huur, moet ’n huurder vandag in sommige gevalle meer as R9 000 vir net twee slaapkamers begroot.

Waarom word daar nie meer huurhuise gebou nie?
Hoewel hoë aanvraag beleggers behoort te lok, is dit duur om nuwe huurbehuising tot die mark toe te voeg.

Verhuurders moet onder meer die aankoopprys van ’n eiendom, verbandkoste, munisipale heffings, versekering, instandhouding en moontlike kompleks-heffings in berekening bring.

Hoë finansieringskoste maak dit terselfdertyd moeiliker vir huurders om self eiendom te koop. Hulle bly dan langer in die huurmark, wat die aanvraag verder verhoog.

Pryse kan nie onbeperk styg nie
Daar is egter ’n punt waar huurders eenvoudig nie meer die pryse kan bekostig nie.

Plaaslike salarisse moet uiteindelik met huurpryse kan tred hou. Indien te min huishoudings ’n huur van R12 000 of R15 000 per maand kan bekostig, sal verhuurders ook moeiliker huurders kry.

Die kern van Oudtshoorn se huurprobleem bly egter duidelik: daar is ’n groot aanvraag na goeie, veilige en bekostigbare huurwonings, maar te min eiendomme beskikbaar.

Totdat meer twee- en drie-slaapkamerwonings vir langtermynhuur beskikbaar word, sal huurders waarskynlik steeds diep in hul sakke moet delf. (ANGELIQUE ERASMUS)