Gimmies veg tot die einde in dag vol sport en spanning

Foto's: Langenhoven Gimnasium Facebook-blad

Die interskole-kragmeting tussen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Punt is verby, maar die emosie en gees van die dag sal nog lank onthou word.

Dit was ’n dag waarin sport, spanning, oorwinnings en teleurstellings hand aan hand gegaan het – met die Gimmies wat telkens gewys het wat deursettingsvermoë en spanwerk beteken.

Die o.18B het boonop ’n tweede oorwinning behaal toe hulle Punt se o.17A met 30–18 geklop het. Die o.14B het met 21–14 geseëvier, terwyl die o.14A met 29–18 gewen het. Daar was egter ook nederlae vir van die ander Gimmie-spanne.

Die hokkiespanne het eweneens hul staal gewys. Die dogters se o.14A het met 6–2 gewen, terwyl die o.14B met 2–0 afgereken het. Die o.16A het 2–2 gelykop gespeel. In die seunshokkie was daar gelykopuitslae vir die o.14A en o.16A, onderskeidelik 0–0 en 2–2.

Op die rugbyveld het die Gimmies verskeie indrukwekkende oorwinnings behaal. Die o.14B het Punt met 26–0 verslaan, terwyl die o.14A met 27–7 gewen het. Die o.16B het ’n spannende wedstryd met 15–13 gewen en die o.19C het met 29–7 geseëvier.

Die dag het egter ook ’n paar hartseer nederlae ingehou. Die o.16A het met 25–29 verloor, terwyl die o.19B en o.19A onderskeidelik met 24–27 en 24–25 vasgeval het.

Skoolhoof mnr. Snyman het die dag se ware betekenis treffend opgesom: “Maak nie saak wat die telling was nie, ons Gimmies het aangehou veg op die veld en die baan en nooit gaan lê nie.”

En dit is dalk die grootste oorwinning van almal – dat elke leerder met trots, karakter en Gimmie-gees meegeding het. Want op ’n dag soos Interskole bepaal die telling nie altyd die wenner nie; soms is dit die hart waarmee jy speel wat die grootste oorwinning beteken. (GRANWILLE GOLIATH)