Honde in die middedorp – dierewelsynsorganisasies, inwoners reageer

IN Oudtshoorn se middedorp is dit klaarblyklik nie meer vreemd om ’n kind en ’n hond saam op straat te sien loop nie.

Volgens Hennie Davel, ’n inwoner wat lank betrokke was by dierewelsynsorganisasies, het hy verlede week ’n draai deur die middedorp gery en nege honde in Hoog- en Adderleystraat getel.

Hy het sy kommer daaroor uitgespreek.

Baie van die honde was nie aan leibande vas nie.

Volgens Davel vereis munisipale wette dat ’n hond aan ’n halsband vas moet wees wanneer jy buite jou erf met die hond loop.

Inwoners van die dorp het in reaksie op ’n vraag op Die Hoorn se Facebook-bladsy vandeesweek aangedui hulle is besorg oor die welsyn van die honde wat middedorp toe gebring word, maar ook bekommerd dat die diere mense kan beseer of ’n gesondheidsrisiko kan veroorsaak.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het nie gereageer op twee navrae oor die aangeleentheid nie en tree volgens wat Die Hoorn kon vasstel, ook nie op teen die eienaars van honde wat in die middedorp op straat is nie.

Indien reaksie nog ontvang word, sal dit volgende week geplaas word.
Daar is egter duidelik verskeie standpunte oor die kwessie van honde op straat, en hoe dit aangespreek moet word.

Volgens Colleen Smith van die dierewelsynsorganisasie Odin (Oudtshoorn Dogs in Need) weet sy van drie straatkinders wie se honde altyd by hulle is en met wie hulle ’n hegte band het.

Smith sê Odin moniteer die honde en maak seker hulle kry kos en water. Hulle is ook geste­riliseer.

“Ons is nie ten gunste daarvan dat die kinders en die honde geskei moet word nie. Die kinders het nie huise nie; hulle het niks anders nie; die honde is al wat hulle het en hulle is ook die enigste mense wat die honde ken.”

Lee-Ann van Sittert van ’n ander dierewelsyns­organisasie, Act (Animal Care Team), sê Act glo nie honde hoort op straat in die middedorp nie. Volgens haar het Act juis nie lank gelede nie ’n oproep ontvang oor ’n hond wat die aand heen en weer oor Voortrekkerweg voor KFC op die dorp gehardloop het.

Inwoners van die dorp het onder meer die volgende menings op Die Hoorn se Facebook-bladsy oor honde in die middedorp gelig:
• Is daar niemand wettig aangestel om hierdie basie met al sy honde uit die dorp te verwyder en dit baie duidelik te maak dat hul nie meer met honde in die dorp mag loop nie? Straatkinders is elke dag in die dorp met hul honde. Ek het selfs in ’n stadium kos en water gegee Maar nou raak die honde te veel. (Lana Bestbier)

• In Kerkstraat loop hulle net so baie. Die honde is so sterk, die kinders moet omtrent sukkel om die honde in toom te hou. (Tilly Neethling Bekker)

• Drie honde het Saterdag baklei in die gang tussen OK en Nedbank. Die een hond het ook na ’n man gebyt. (Magdalena Lombard)

• Geen honde mag in die dorp toegelaat word nie. Alleenlik skoothondjies wat in sakke of die arms gedra word. Wat soek groot honde in die dorp? Dis dieremishandeling om so ver met ’n hond te stap en heeldag deur die strate te loop. (Madeleine Wright)

• Die kinders van Bridgton loop heeldag met honde in die parkeerarea agter Nedbank. (Flora Kortje)

• Dog licences should be reintroduced. And they should be really expensive, with exemptions for working dogs on farms and guide dogs. With the increase in zoonotic disease keeping animals which access communal space will become a public health issue which should be addressed sooner rather than later. (Alan van Zuydam) (Deur Liesel le Roux)