Bekroonde Afrikaanse fliek vir ’n beperkte tydperk op KKNK-platforms te sien

FLIEKVLOOIE kan van 21 September tot 1 Okto­ber die nuwe, bekroonde Afrikaanse rolprent Stam vir ’n beperkte tydperk eksklusief op die KKNK se digitale platforms kyk.

Stam is verlede Saterdag (19 September) as die beste Suid-Afrikaanse rolprent by die Durbanse Internasionale Rolprentfees aangewys.

Die rolprent, uit die pen en met regie deur Louw Venter, is volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, uitsonderlik.

“Stam sou landwyd in rolprentteaters vrygestel word, maar dit is as gevolg van die Covid-19-pandemie nie moontlik nie. Dit is vir die KKNK ’n groot voorreg om dit eksklusief aan die publiek beskikbaar te stel.”

“Dit is ook vir die KKNK en rolprentmakers belangrik om gesprekke rondom die kwessies wat die rolprent aanraak te inisieer en daarom bied ons tussen 28 September en 1 Oktober virtuele ge­sprekke met die rolprentmakers, akteurs en kenners aan.

“Die gesprekke is ingesluit by die prys van die kaartjie.”

Die gesprekke sluit temas in soos: Wat ons nie van geslagsgebaseerde geweld sê nie; die trauma van versorging; en die verhouding tussen versla­wing en verbondenheid.

Die bekende rolprentresensent Leon van Nierop, beskryf Stam as “ ’n barshou vir Afrikaanse rolprente”.

Stam verweef die lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar ure in die middestad van Kaapstad.

“Ons word nou meer as ooit vantevore gedwing om na die betekenis en belangrikheid van menslike verbintenisse te kyk,” sê regisseur Venter.

“Die pandemie het bewys dat daar magte is wat ons aan mekaar verbind, magte wat kragtiger is as wat ons ooit sou kon dink. Ons is almal deel van mekaar se stories. Stam is ’n ontginning van die onsigbare kettings wat ons aan mekaar bind – verbintenisse en verhoudings wat baie verder as faam, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek.”

Stam se indrukwekkende rolverdeling bestaan uit Inge Beckmann, Gideon Lombard, Tarryn Wyngaard en Niza Jay, met Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson in ondersteunende rolle.

’n Kaartjie om Stam op die KKNK se digitale platforms te kyk, kos slegs R50 en is beskikbaar by Quicket.

Die rolprent is in Afrikaans en Engels, met Engelse onderskrifte.
• Lokprent en meer inligting by www.kknk.co.za/stam/.