TERWYL inwoners van die Groter Oudtshoorn tans hard oefen om die passies van die Jerusalema-dansuitdaging voor Saterdagmiddag (26 September) onder die knie te kry vir ’n massadans in Baron van Reedestraat, het die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit ook hul steun aan dié inisiatief toegesê.
Die dorp se burgemeester, Chris Macpherson, sê hy glo Saterdag se beoogde Jerusalema-dans deur inwoners sal baie suksesvol wees.
“Een ding wat ons in hierdie dorp nodig het, is hoop en energie om mense weer aan die gang te kry,” het Macpherson gesê.
Hy het verwys na pres Cyril Rampaphosa se onlangse toespraak waarin hy Suid-Afrikaners aangemoedig het om hul erfenis te vier deur saam met die res van die wêreld aan die Jerusalema-dansuitdaging deel te neem.
Die dansuitdaging vind om 13:30 in Baron van Reedestraat tussen Voortrekkerweg en Kerkstraat plaas.
Saterdag se projek is die inisiatief van Ingrid Noble, ’n inwoner van Oudtshoorn, wat hoop om honderde inwoners te kry om saam te dans.
Verskeie oefensessies vir inwoners het al in die middedorp en in Bridgton plaasgevind.
Noble het inwoners die week aangemoedig om in groot getalle te kom deelneem en almal Saterdag wit T-hemde en denims te dra.
Sy het ook gesê almal moet onthou dat die dra van maskers en die handhawing van sosiale afstand Saterdag streng nagekom sal moet word.
Verskeie munisipale afdelings, onder meer rampbestuur, verkeer en wetstoepassing, asook die polisie en Ingrid het die laaste tyd gebeurlikheidsvergaderings gehou om te verseker dat die geleentheid binne die regulasies van Covid-19 plaasvind en om openbare veiligheid te verseker.