Ontbied CapeNature oor vreetsame ystervarke

HEELPARTY ystervarke kom kuier deesdae in die tuine van Oudtshoorn se inwoners.

Theresa van der Westhuizen, ’n bewaringsbestuurder by CapeNature, vertel CapeNature het al vyf ystervarke uit een tuin verwyder. Dit was voor die Covid-19-grendeltyd.

As ’n inwoner een van dié stekelrige besoekers in sy/haar tuin opmerk, kan CapeNature by selnr 0827719107 gekontak word om die knaagdier te kom verwyder.

Volgens Van der Westhuizen is ystervarke nie ’n ongewone verskynsel in tuine op Oudtshoorn en in die Klein Karoo nie.

Sy sê in Mei en Junie het daar al vier ystervarke, twee volwassenes en twee kleintjies, in een tuin in Raubenheimerstraat kom kuier. Die besoeke het in ’n tydperk van drie weke plaasgevind.

Vandeesmaand is ’n knewel van ’n ystervark in die tuin van Katot en Ilse Meyer in Jan van Riebeeckweg gevang. Ilse sê die ystervark het taamlik verwoesting in hul tuin gesaai.

Volgens Van der Westhuizen is tuine aanloklik vir ystervarke omdat mense deesdae meer natuurlike, inheemse tuine aanplant met heelwat droogtebestande sukkulente plantspesies (vetplante).

Hulle slaap bedags in van Oudts­hoorn se watervore en kom meestal snags uit om te vreet. Hulle is klaarblyklik agter die tuinplante aan,” sê sy.
Van der Westhuizen waarsku dat inwoners CapeNature kontak as hulle ’n ystervark of getuienis van ’n ystervark in hul tuine ommerk. “Lede van die publiek word nie aangeraai om die diere self te probeer vang nie, want ’n ystervark verdedig homself deur sy rug op jou te draai en laat die penne regop staan. Volgens haar beweeg ystervarke agteruit in die rigting van gevaar in. As die penne jou steek, sit dit vas in jou vel, soortgelyk aan ’n pendoring. “Ystervarke kan nie hul penne uitskiet soos wat baie mense glo nie,” vertel sy.

As jy CapeNature kontak oor ’n ystervark in jou tuin, kom stel hulle ’n vanghok met vars groenteskille as lokmiddel. “Wanneer die ystervark in die hok is, word hy in ’n natuurlike gebied ver buite die dorp vrygelaat waar daar geen huise of honde naby is nie, maar wel genoegsame water en skuiling,” het Van der Westhuizen gesê.

Omdat ystervarke nie ’n beskermde spesie is nie, word hulle nie verder dopgehou nie. Dit is eintlik ironies dat dié vreedsame dier in mense se tuine kom vreet siende dat veral mense en honde van hul grootste vyande is. Hulle word deur baie as plaagdiere beskou wat skade aan gewasse en besproeiinstelsels aanrig, vertel Van der Westhuizen.

“Mense maak hulle ook dood vir hul penne wat gebruik word vir die maak van curios,” sê sy en voeg by dat CapeNature veral bekommerd is oor die toenemende getal penne waarmee handel gedryf word. Sommige penne word wel op ’n wettige manier bekom, sê sy.

Van der Westhuizen sê benewens ystervarke kan inwoners ook moontlik muskeljaatkatte in hul tuine vind.

Skakel CapeNature by 0827719107 vir hulp met diere wat moontlik nie in jou tuin hoort nie. Dit sluit jou bure se hond of kat uit! (Deur Stefan Skapie Goosen)