Santa Cassara steeds voluit besig om mooi te maak

Santa Cassara in die vetplanttuin wat sy ver­­­lede jaar be­gin het. Links is ’n nuwe dammetjie wat drink­water vir skilpaaie uit die omgewing verskaf. Foto’s: Liesel le Roux

OM ’n nuwe projek te begin, is dikwels makliker as om volhoubaar daarmee voort te gaan. Maar Santa Cassara van Oudtshoorn, wat op 7 Mei verlede jaar die inisiatief geneem het om ’n verwaarloosde erf op die hoek van Reserwe- en Noordstraat op Oudtshoorn skoon te maak en te verfraai, is een van daardie mense wat nie opgee nie. Sy woeker steeds gereeld fluks in die nuwe vetplanttuin op die erf.

Santa sê sy is vasberade om voort te gaan om dié stuk grond verder te verfraai. Met die lente in die lug is die vetplante tussen paadjies wat met klippe afgebaken is, fluks aan die groei.

Onlangs is daar ook ’n dammetjie gebou waar die skilpaaie uit die omge­wing kan kom water drink.

Die groot, leë erf tussen ’n klomp woonhuise het sowat 26 jaar leeg gestaan voordat Santa verlede jaar begin het om bakkie­vragte rommel en onkruid daar te laat wegry.

Santa sê sy werk steeds meestal alleen daar, hoewel ’n tuinwerker haar soms kom help.

En dit klink of sy nog werk soek…

Sy vertel van een of twee ander verwaarloosde leë erwe in die omgewing wat haar ook erg pla en waar sy dalk in die toekoms ook sal begin skoonmaak!

Staan Santa gerus by. Vir enige sken­kings of hulp, kan sy by sel 076 126 9438 gekontak word. (Deur Liesel le Roux)