Diereskut skuif na munisipale depot

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit stel tans ’n diensooreenkoms op wat ge­sluit sal word met die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Die Tuinroete DBV-tak is in Junie 2017 aange­stel as diens­verskaffer vir die Oudtshoorn Diereskut vir ’n tydperk van drie jaar.

Die diereskut gaan as gevolg van onder meer gesondheidsredes van die Rioolsuiweringswerke na die terrein van die munisipale depot naby die Oudtshoorn-stasieterrein verskuif. Die ondertekening van die oor­een­koms is juis in 2017 op ys geplaas totdat ’n geskikte perseel gevind en ’n gebou opgerig kon word.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit spandeer die munisipaliteit sowat R1,2 miljoen per jaar vir die bedryf van die skut. Die tender van die DBV wat vir die bedryf van die skut goedgekeur is, beloop R1 017 600 per jaar.

Bouwerk aan die gebou by die munisipale depot behoort binnekort te begin met die gebou wat na verwag­ting in Desember voltooi sal word en gereed sal wees om van dan af die diere te huisves.

Luidens die persverklaring maak die munisipaliteit se kapitaalbegro­ting voorsiening vir die oprigting van die gebou.

’n Tender vir die oprigting van die gebou (Kennisgewing 100 van 2019) is reeds in plaaslike publikasies geplaas en die tenderproses behoort binnekort gefinaliseer te wees.