Adjunk-minister doen werwing op Oudtshoorn

Jan Pietersen (links) en sy vrou, Lien, saam met die adjunk-minister van finansies, Mondli Gungubele. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE adjunk-minister van finansies, Mondli Gungubele, het Oudtshoorn Sondag besoek om werwing van huis tot huis vir die komende verkiesing op 8 Mei te doen.

Gungubele het Smartie Town, Bongolethu en die GG-kamp besoek en met verskeie inwoners gepraat en aangemoedig om vir die ANC te stem.

Een van die oudste inwoners van Smartie Town, Jan Pietersen (80), het sy lot by die adjunk-minister bekla. Volgens hom doen die DA-beheerde Oudts­hoorn Munisipaliteit niks vir die inwoners van Smartie Town nie.

Twee ander inwoners, Koos Wagenaar en Elsie Wagenaar (geen familie) wat glo DA-lede is, het Gungubele meegedeel dat hulle nou by die ANC wil aansluit.

Hulle is vinnig ANC T-hemde in die hand gestop en het dit vir foto’s aangetrek.

Gungubele is vergesel deur Oudtshoorn se ANC-parlementslid, Ellen Prins, twee raadslede, Laurington Stone (Wyk 8) en Henry Tyatya, die Suid-Kaapse ANC-streekverkiesingsbestuurder, Mapitiza Putco, asook plaaslike ANC-lede.