Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Khayalitsha wat skuldig bevind is dat hy ’n Mercedes Benz verlede jaar op De Rust gesteel het, sal op 17 April gevonnis word.
Thembinkosi Mfaze (48) is in die vroeë oggendure op 2 Mei 2018 deur die De Rust Polisie en die Voertuigdiefstaleenheid in hegtenis geneem met ’n Mercedez Benz wat in Claremont gesteel is.
Volgens Mfaze was hy in die Oos-Kaap toe iemand hom gevra het om die motor na Kaapstad te neem en ook dat hy alles moontlik moet doen om die polisie te ontduik.
Hy het erken dat hy daarvan bewus was dat die persoon nie so ’n motor kon bekostig nie.
Sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het ter versagting van vonnis die hof versoek om in ag te neem dat dit nie die gewone motordiefstal was nie en Mfaze nie vorige ver- oordelings het nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir ’n korrektiewe toesigverslag en vonnis uitgestel en Mfaze se borgtog tot dan verleng.