Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen drie mans van Calitzdorp wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere getuienis tot volgende maand uitgestel.
Henrico Lindt, Flip Abrahams en Malcolm Windvogel word daarvan aangekla dat hulle die aand van 27 September 2014 twee broers beroof en die een met ’n mes gesteek het.
Christo Pockpas het getuig dat die drie verdagtes hom van sy beursie met R400 daarin beroof het en sy broer kort daarna met ’n mes gesteek en van ’n onbekende bedrag geld beroof het.
Hy het gesê een van die mans, Malcolm Windvogel,’n goeie vriend van hom, het hom ’n paar dae later om verskoning gevra.
Volgens Pockpas was hy en sy meisie in sy “hok” op die erf van sy ma toe die drie die aand by hulle aangekom het.
Hy het vertel hoedat hulle sy voete onder hom uitgeskop het en hom – terwyl hy op die grond gelê het – van sy beursie en geld beroof het.
Daarna is hulle na die “hok” van sy broer waar hy besig was om kos te kook. Hy is met ’n mes gesteek en ook beroof.
Volgens hom het Windvogel aan hom gesê om liewer weg te hardloop voordat hy ook gesteek word.
Hy is toe na sy tante toe wat die polisie gebel het.
Met die aankoms van die polisie was die drie beskuldigdes reeds weg.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.
Sy het dit Maandag vir verdere getuienis tot 26 Junie uitgestel.