Deur Liesel le Roux
DIE Tuinroete DBV sal waarskynlik eers teen April volgende jaar die bestuur van die Oudtshoorn Diereskut kan oorneem.
Die diereskut gaan waarskynlik na ’n ander perseel verskuif waar eers sekere noodsaaklike bouwerk gedoen sal moet word.
Na verneem word, voldoen die huidige perseel nie aan talle belangrike vereistes nie, onder meer wat voorskrigte rondom dieregesondheid betref.
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het bevestig dat die munisipaliteit tans besig is om logistieke aspekte rondom die ligging van die diereskut aan te spreek.
Volgens Frieda Jansen van Rensburg, bestuurder van die Tuinroete DBV, is ’n terrein reeds geïdentifiseer, maar is herstelwerk aan die huidige gebou nodig en sal hokke vir die skut gebou moet word.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het in Julie vanjaar die tender vir die bestuur van die diereskut aan die Tuinroete DBV toegeken en daar is aanvanklik gehoop dat die DBV al begin Oktober sou kon oorneem.