Wanneer ’n baken van hoop geteiken word

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

DIE Dassie Voorskoolse Sentrum in Dassieweg in Bridgton, Oudtshoorn is al 22 jaar lank ’n baken van hoop in die dorp.

Dié inspirerende skooltjie met sy goedgemanierde kinders is 22 jaar ge­lede deur Shirley Wagenaar in ’n gebied begin waar dit bitter swaar met baie inwoners gaan.

Sy het dit gedoen om vir die kinders wat daar grootword, uitstekende voor­skoolse onderrig te bied en hulle voete vlerke vir ’n beter toekoms te gee. ’n Nasorgsentrum bied vir skool­gaande kinders ’n plek waar hulle kan huis­werk doen.

Wagenaar het selfs ’n toekenning van Nelson Mandela ontvang vir die skooltjie.

Hoe tragies is dit egter nie dat dié baken van hoop ook al die jare nog deur misdadigers geteiken word as ’n plek waar ’n mens kan steel.

En ongelukkig floreer misdaad waar armoede en werkloosheid is.

Ten spyte van die sentrum se veilig­heidsmaatreëls is heining na hei­ning al afgebreek, en onlangs ook ’n nuwe muur wat verlede jaar gebou is om die skool beter teen inbrake te beskerm.

Hierdie keer is die kinders se klim- en klouterapparaat gesteel. Dit sluit ’n glyplank, wipplank en ’n houttrein waarin die kinders kon klim en speel, in. Dié speelapparaat was destyds ’n skenking uit Gauteng.

Vir die skooltjie is elke diefstal ’n groot finansiële slag, want fondse is nie volop nie. Hopelik is daar iewers iemand wat lees en hoor – dat hierdie baken van hoop hulp en steun nodig het vir beter sekuriteit en die vervanging van die speelapparaat.

Want oor een ding is Wagenaar se­ker: Die skooltjie bly; dit bly daar vir die kinders van daardie omgewing.