Hoewel Adele Kuhn Dinsdag weer kon glimlag nadat ’n vioolspinnekop haar twee weke gelede aan die voet gebyt het, het sy steeds pyn ervaar. Foto: Liesel le Roux
Speel gou as jy ’n spinnekopbyt vermoed
Deur Liesel le Roux
SY het nie besef ’n spinnekop het haar gebyt nie en het gedink haar toon is so seer as gevolg van nuwe skoene wat sy werk toe gedra het.
So vertel Adele Kuhn van Oudtshoorn wat so-wat twee weke gelede vermoedelik deur ’n vioolspinnekop aan die groottoon van haar regtervoet gebyt is.
Die vioolspinnekop se gif is sitotoksies, wat beteken dat dit die weefsel van die slagoffer aanval en letsels en gate in die weefsel kan veroorsaak as dit nie spoedig en korrek behandel word nie. ’n Vioolspinnekop se byt veroorsaak ook erge pyn.
Kuhn vertel sy het op Maandag, 2 Oktober, nuwe skoene aangetrek werk toe en gedink die skoene het haar toon seergemaak.
Teen die Woensdag was haar toon so seer dat sy die dag by die huis gebly het.
Die toon het soos die dae verbygegaan het, vererger, geswel en geïnfekteerd geraak; ondanks besoeke aan die plaaslike hospitaal en ’n kliniek en ’n kursus antibiotika.
Verlede Vrydag het sy begin vrees dat sy haar toon gaan verloor en kon sy die pyn nie meer verduur nie, sê Kuhn. “Ek kon weens die pyn nie slaap nie,” sê sy.
Sy het Saterdag ten einde raad ’n algemene praktisyn op Oudtshoorn besoek wat volgens haar die geïnfekteerde weefsel weggesny het en nog ’n kursus antibiotika voorgeskryf het.
Dit het groot verligting gebring sê sy, en die hoop dat haar voet binnekort gesond sal word. Hoewel daar nie meer ’n teken van infeksie was nie, het sy gister steeds pyn ervaar.
• Volgens die webtuiste http://www.aspin-adventures.co.za/spinnekop_byt.php is die viool- en ook die sakspinnekop se gif sitotoksies, dit wil sê dit val die weefsel van die pasiënt aan.
Die byt van die twee spinnekoppe is gewoonlik nie pynlik nie.
Dit veroorsaak dat mense nie besef hulle is deur ’n spinnekop gebyt nie.
Die vioolspinnekop is ’n nagloper en maak sy woonplek in donker plekke soos ’n laai se hoek of skoene wat min gebruik word.
Gewoonlik vorm ’n rooi area nadat iemand gebyt is.
Sowat 12 tot 24 uur later vorm ’n blaas, en ná ’n paar dae later ’n letsel wat soos ’n pitsweer lyk.
Kuhn se bytplek het geleidelik rooi en selfs blouswart geword met erge infeksie in die weefsel.
Die eerste ding wat iemand moet doen nadat hy of sy deur ’n vioolspinnekop gebyt is, is om die bytplek en die vel rondom die bytplek met water en seep te was omdat ’n spinnekopbyt baie vinnig infeksie ontwikkel.
Die byt van ’n sakspinnekop lyk op sy beurt dikwels soos ’n muskietbyt en kan ook later jeuk. Dit begin ook pynlik raak en swel.
Sakspinnekoppe skuil in die voue van gordyne, in beddegoed en selfs in klere op die wasgoeddraad in ’n sagte tipe kokon. Ook dié spinnekop se bytplek en die vel rondom dit moet dadelik gewas en skoongehou word.