‘Hy was ’n voorbeeld vir sy kollegas’

 

Ao JJ (Jacques) Geswindt.       Foto verskaf

Ao JJ (Jacques) Geswindt. Foto verskaf

• Troosdiens vir polisiebeampte

Deur Ilze-Mari Gründling
HY was ’n voorbeeld vir sy kollegas en ’n persoon wat nie geskroom het om reg en geregtigheid te laat geskied nie, hetsy by sy werkplek en wanneer dit by die oplos van misdaad kom.

So het brig Lenova Januarie, stasiebevelvoerder op Oudtshoorn, gister by die troosdiens van die 46-jarige ao JJ (Jacques) Geswindt gesê.

Geswindt, ’n polisiebeampte van Oudtshoorn en pa van twee kinders, het Sondagmiddag omstreeks 15:45 sy eie lewe in Duikerhof, Bridgton geneem.

Die Oudtshoorn Polisie het ’n geregtelike nadoodse ondersoekdossier geopen, maar geen gemene spel word vermoed nie.

“Hy was ’n ware seun, my oudste,” sê sy pa, Richard Geswindt. “Hy was baie spesiaal en het nooit vergeet waar hy vandaan gekom het nie. Ek was en is trots om hom my seun te noem.”

Geswindt se swaer, Marcellis Theyse, het by die troosdiens gesê hy sal Geswindt as ’n unieke mens onthou: “My swaer, my vriend, jou unieke mens met ’n unieke geaardheid. Ons herdenk jou lewe en gaan jou mis.”

Volgens Januari was Geswindt ’n baie gedisiplineerde polisiebeampte. Hy was 25 jaar in die polisie en sy hele loopbaan op Oudtshoorn ge­werk.

Geswindt word oorleef deur sy vrou Natasha, en twee kinders, Richard-John (19) en dogter Jamie-Lee (25).

Sy begrafnisdiens vind Saterdag om 10:00 by die AGS Kerk in Bridgton plaas.