Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Ladismith Polisie ondersoek ’n moordklag nadat ’n 22-jarige man Sondagoggend omstreeks 02:13 op pad na die hospitaal gesterf het.
Die man het ’n steekwond in sy rug gehad.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is polisiebeamptes van die Ladismith Polisie ná ’n bakleiery by Uilkraal Ladismith ontbied.
Op die toneel is beweer dat Jaylon Brits deur lede van die publiek uit ’n perseel in Frederick Plaatjiesstraat gedra is en daarna na die hospitaal vervoer is.
’n Outopsie is Maandag uitgevoer om die oorsaak van Brits se dood te bepaal.
Die uitslae van die outopsie is nog nie bekend nie en omstandighede rondom Brits se dood word ondersoek.
Die hoof van sigbare polisiëring, kapt Henry Edwardes, het Maandag tydens ’n vergadering van die Ladismith Gemeenskapspolisiëringsform (GPF) die gemeenskap versoek om verklarings af te lê oor mense wat na bewering gedreig word.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van Ladismith Polisie, neem die Polisie sulke dreigemente ernstig op.
“Gerugte van persone wat vanaf Oudtshoorn gebring word om persone op Ladismith aan te rand, word ernstig opgeneem,” sê Cederas.
Volgens Cederas sal mense wat geweld bevor-der, summier in hegtenis geneem word.
“Die Polisie is verbind tot sy missie: om ’n veilige omgewing vir alle mense te verseker en om enigiets wat die gemeenskap se veiligheid bedreig te ondersoek en die oortreders na die hof te bring.”