Shirley Wagenaar, hoof van die Dassie Voorskool en Nasorgsentrum (links), en Dorothy Fennie van die skool se beheerliggaam by die stuk muur wat steen vir steen afgebreek is. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE skool sal hier bly, al vandaliseer en besteel mense uit die omgewing dit al die afgelope 22 jaar.
Dit is die woorde van die Dassie Voorskool- en Nasorgsentrum in Bridgton se hoof, Shirley Wagenaar, nadat diewe onlangs ’n stuk van ’n muur om die skool afgebreek en al die skool se buitespeelapparaat gesteel het. Dit sluit in ’n kleurvolle glyplank, ’n klimapparaat, ’n wip- plank en ’n houttreintjie waarin die kin-ders gespeel het. Al dié apparaat was van hout en jare gelede aangekoop met ’n skenking uit Gauteng.
Die muur is verlede jaar gebou juis om die skool teen diefstal te beskerm nadat die draadheining om die skool ses keer gesteel is.
Die skool is geleë in ’n omgewing waar groot armoede en werkloosheid heers.
Die muur wat afgebreek is, grens aan ’n oop stuk grond langs Dassieweg.
Sy is ook hartseer oor die voortdurende diefstalle by die skool, omdat die skool se inkomste en beskikbare fondse maar baie karig is, sê Wagenaar. Onlangs is daar ook ’n kassetspeler en geld wat met ’n bingo-aand ingesamel is, gesteel.
“Ten spyte van die voortdurende diefstal, sal die skool egter hier bly. Die skool is hier vir die meer as 200 kinders wat hierheen kom. Dit is wat ons motiveer om aan te gaan,” sê Wagenaar.
Sy sê sy is nog net soos 22 jaar gelede verbind tot die voortbestaan van die skool en dat geen diefstal die werk wat daar gedoen word, ongedaan kan maak nie.
Volgens Wagenaar is dele van die gesteelde speelapparaat in die erf van ’n huis in die omgewing opgemerk wat vermoede laat ontstaan.
Wagenaar het die gemeenskap gevra om haar en die personeel en beheerliggaam by te staan om die skool beter te beveilig. Enigeen wat op enige manier ’n bydrae kan lewer, kan die skool kontak by tel 044 272 0297.