Beste Kersgeskenk nog!

DAAR is mos geen beter tyd as die Kerstyd vir wonderwerke en welwillendheid nie.
Dít het die Louws van Somerset-Wes maar te goed besef toe hulle verlede Kersfees in die Klein Karoo gekuier het en hulle geliefde Schnauzer, Moppie, ’n dodelike slangbyt oorleef het.
Dit was alles te danke aan die flinke optrede van ’n veearts op Oudtshoorn.
En nou, amper ’n jaar later, spog Moppie met ’n werpsel hondjies wat sy in die lewe gebring het.
Hennie Louw en sy vrou, Caromien, glo as dit nie vir die toewyding van dr Reinette du Plooy van die Kango Dierekliniek was nie, sou klein Moppie nie meer vandag hier gewees het nie. Wat nog te sê die lewe skenk aan ’n hele kroos klein hondjies.
“Dit is duidelik dat haar werk vir haar ’n passie en ’n roeping is,” sê Hennie.
Hennie en Caromien het op 22 Desember verlede jaar op die familieplaas, Buffelskloof, buite Calitzdorp aangekom om saam met familie Kersfees te vier.
Op Oukersdag was Moppie besig om in die veld rond te snuffel terwyl haar base op die stoep sit en koffie drink het.
“Ek het geweet dit is ’n slangbyt toe ek haar hoor tjank.
“Sy het na my gehardloop en toe ek haar optel, het ek die twee gaatjies gesien. Gelukkig was sy gou by my, want oomblikke later was daar net bloed en mens kon die gaatjies glad nie meer sien nie.”
Hennie het aangeneem dit is ’n pofadder, aangesien hulle vir ’n prooi lê en wag. “Geelslange is meer skugter en sal net pik as hulle gekonfronteer word.”
Hennie se niggie, Marjo Greyling wat op Buffelskloof grootgeword het, het die veearts gebel, terwyl Hennie en Caromien met Moppie dorp toe gejaag het.
“Die veearts het nie teengif gehad nie. Terwyl ons nog op pad was, het sy ’n ander veearts op die dorp gebel. Hy het teengif gehad, maar was besig met ’n operasie en kon ons nie help nie.”
Reinette het Moppie dadelik op ’n drup gesit en gesê sy sal teengif gaan haal.
“Ek het aangebied om self die teengif te gaan haal, want ek het geweet sy gaan nie ry soos ek van plan was om te ry nie.
“Ek het 120km/h in ’n 60 km-sone gejaag. By die veearts ingestorm en vir die gif gevra. Ek het vir die ontvangsdame gesê daar is nie tyd vir betaal nie en net my beursie as waarborg daar gelos en belowe om later terug te kom.
“Sy sê toe dit is reg so en ek is weer teen ’n supersoniese vaart daar weg.”
Hennie verduidelik dat daar slegs 50 minute verloop het sedert Moppie gepik is tot sy op die drup gesit is. Teen die tyd wat sy die teengif gekry het, het net ’n uur verloop.
“Wat dit ook merkwaardig maak, is dat Moppie twee keer gepik is.”
Reinette het hulle regdeur die nag op hoogte gehou van Moppie se toestand.
“Sy was bewus van ons angs en het uit haar pad gegaan om ons te ondersteun. Sy het soveel deernis vir ons en Moppie gehad.”
Hennie vertel dit was glad nie lekker om op Kersoggend wakker te word en nie te weet of Moppie of die slang gewen het nie. “Laatoggend het Reinette ons laat weet dat ons Moppie kan kom haal en dat sy verder met goeie sorg sal aansterk. Dit was die beste Kerskgeskenk ooit!
“Dit was vir ons wonderlik dat hierdie veearts soveel tyd en aandag aan ons woef gegee het. En dit op Kersdag.
“Ons het nie woorde om ons enorme dankbaarheid te beskryf nie.”

Deur Marelize Potgieter