DK&J vier 50ste verjaardag

Die span van Duvenage, Keyser & Jonck is agter van links Wouter Pretorius, Lezelma Pretorius, Johan Duvenage en Dirk du Toit, tweede ry van links Elaine du Toit, Wilmari Hills, Yolande Heyns en Lorraine Nortje, derde ry van links Lauren MacGear, Retha Jonker, Lache Meyer en Aldene Hendricks en voor van links Kristien Campher, Nicolyn de Vos, Anika Dawson, ­Marilize Nel en Irene Mortlock.
Die aanvanklike vennote van Duvenage, Key­ser en Jonck (van links) Hans Duvenage, Herbert Keyser en Lopie Jonck.

Die legendariese Hans Duvenage het reeds in 1962 as prokureur op Oudtshoorn begin praktiseer.
Hy het op 1 Desember 1969 met Herbert Keyser en Lopie Jonck saamgespan en is die vennootskap Duvenage, Keyser & Jonck gestig.
Die 50ste bestaansjaar van hierdie bekende prokureursfirma van Oudtshoorn is verlede Saterdag behoorlik gevier met ’n elegante funksie by die Klein Karoo Emporium.
Al die voormalige vennote van die firma en die familie van dié wat reeds oorlede is, het saam met die huidige direkteure, personeel, Kaapse korrespondente en ander gaste hierdie funksie bygewoon.
Johan Duvenage, seun van wyle Hans Duvenage, het in sy toespraak hulde gebring aan die oud-vennote en gesê dat sy pa altyd gesê het dat daar net twee reëls is – ons lieg nie en ons steel nie.
Daar is ook erkenning gegee aan die uitsonderlike lojale en ervare personeel van die firma.
Lorraine Nortje is al 48 jaar in diens van die firma en haar ervaring en kundigheid ken geen gelyke nie.
Daar is ook talle ander lede van die personeel wat 20 jaar en langer daar werksaam is.
Lezelma Pretorius het in haar huldeblyk aan die personeel gesê dat Duvenage, Keyser & Jonck soos ’n familie is en dat elkeen van die personeel goud werd is.
Die huidige direkteure van die firma is Johan Duvenage, Lezelma Pretorius, Wouter Pretorius en Dirk du Toit.
Hulle bied steeds omvattende regsdienste aan die gemeenskap en bou graag voort op die tradisie van integriteit, professionele diens en kundigheid, wat nog al die jare die hoekstene van hierdie firma was en sal bly.

Be the first to comment on "DK&J vier 50ste verjaardag"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*