MET die aanvang van droogtes is ruvoer op die veld nog beskikbaar en kan diere steeds goed onderhou word met die regte byvoeding om voer-inname aan te vul. Tydens rampdroogtes is die groot probleem egter dat ruvoer nie meer beskikbaar is nie, en teen baie hoë koste aangekoop en vervoer moet word.
In die kort artikel kyk ek na ’n paar neweprodukte wat as noodvoer beskikbaar mag wees. asook enkele staatmaker droogtegewasse.
Vervoerkoste van alternatiewe voerbronne is ’n belangrike faktor, veral bronne met ’n hoë voginhoud. Om die werklike voedingswaarde te bereken en met ander bronne te kan vergelyk, moet die voedingswaarde van die bronne eers op ’n droë-basis bereken word.
Dit word eenvoudig gedoen deur die nutrientwaarde van die voer te deel met die droëmateriaal-inhoud van die voer (bv indien die TVV van appelpulp 30% is en die pulp 60% vog bevat, is die TVV op ’n droë-basis 30/0,4, met ander woorde 75% TVV op ’n 100% droë basis.
Die vog of watergedeelte wat in die geval 600 kg per ton is, moet in berekening gebring word met die prys van die voer. Indien die pulp byvoorbeeld R500 per ton kos is die ware prys op ’n droëmateriaalbasis R1 250 per ton.
Indien ’n landbouer alternatiewe voerbronne wil gebruik, moet ’n veekundige verkieslik geraadpleeg word om te verseker dat dit aan die spesifieke behoefte sal voldoen.
Sitruspulp
Sitruspulp (6-13% ruproteïen en 84-87% TVV op ’n droë basis) is ’n hoogs verteerbare en smaaklike voedingsbron vir herkouerdiere. Genoeg ruvoer met beskikbaar wees indien sitruspulp vir baie lang tye aan diere gevoer word. Weens die hoë energiewaarde van sitruspulp kan dit teen redelike hoë vlakke in voere vir produksiediere gebruik word.
Rosyne
Uitskot-rosyne (6-7% TRP en ongeveer 80% TVV op ’n droëmateriaal-basis) is in sekere streke as neweproduk beskikbaar. Rosyne is hoogs smaaklik en hoog in energie wat hoofsaaklik in die vorm van suikers (tot 72%) beskikbaar is.
Rosyne kan selfs in produksierantsoene gebruik word en kan tot een derde van die graankomponent in herkouerdïete vervang. Die voedingswaarde van rosyne word op 75-80% van die waarde van mielies geskat.
Druiwedoppe
Druiwedoppe (13,3% ruproteïene en 32% TVV op ’n droë basis) is geredelik beskikbaar in sekere dele van die Wes-Kaap naby groot wynkelders.
Druiwedoppe kan met sukses as veevoer gebruik word en wit druiwedoppe is van groter waarde as rooi druiwedoppe weens die hoë vlakke van tannien in rooi druiwe. Hoe meer sap uit die doppe gedruk is, hoe minder waarde het die doppe (agv die suiker wat uitgedruk word).
Druiwedoppe word goed deur herkouers gevreet en is oor die algemeen smaaklik.
Aartappels
Uitskotaartappels (9-11% TRP en 79% TVV op ’n droë basis) word soms aan diere gevoer. Aartappels is hoog in stysel en dus energie en vars aartappels bevat ongeveer 75-80% water. Aartappels word goed benut deur herkouers, maar moet verkieslik gekerf wees om verstikking by veral beeste te voorkom. Die voer van aartappels in laag geplaasde voerbakke of onder ’n balk of kabel bo die diere se koppe by die voerbak help ook tot ’n mate teen verstikking. Aartappels wat uitgeloop het, bevat egter gifstowwe (alkaloïedes) in die spruite en moet nie aan diere gevoer word nie.
Hoendermis
Gesteriliseerde hoendermis word somtyds vir onderhoud en in lekke van diere in droogtetye deur produsente gebruik. Kuikenhokmis (15-16% ruproteïen en 45% TVV op ’n droë basis) is ’n beter produk om te gebruik as lêhenmis, omdat laasgenoemde gewoonlik te nat is. Volgens wet moet die hoendermis gesteriliseer wees (om skadelike organismes te dood) voor gebruik in dierevoeding, anders is die voer daarvan teen die wet. Hoendermis as veevoer (gewoon of gesteriliseerd) hou egter steeds risiko in waneer dit vir diere gevoer word. Eerstens moet diere ingeënt wees teen lamsiekte (clostridium botulinum) voordat dit gebruik kan word. Ander gevare is die teenwoordigheid van sekere ionofore of groeistimulate (bv maduramy-cin) wat dodelik kan wees vir alle herkouers asook te hoë kopervlakke bevat vir skape.
Verder kan toksiene agv swamgroei, weens hoë vog in die mis, aborsies by dragtige diere veroorsaak. Voordat hoendermis in veevoer of lekke gebruik word, behoort die produsent eers met ’n veevoedingskundige te praat om seker te maak dat alle risiko’s in ag geneem is om potensieel groot verliese te beperk.
Prosopis (Prosopis glandulosa/juliflora-
/velutina)
Prosopis of muskietbome kom wyd verspreid in sekere dele van die land voor en is een van die belangrikste indringerplante in Suid-Afrika. Een boom kan tussen 10 en 50 kg peule per jaar produseer. Die blare en groen peule (wat selfs skadelik kan wees vir diere) van die muskietboom is redelik onsmaaklik, maar die ryp peule is hoog in suikers (ongeveer 15%) en baie smaaklik vir diere.
Ryp prosopis-peule (10-12% TRP en 70-75% TVV) is redelik hoog in energie, maar die sade, alhoewel hoog in proteïen (31-37%), kan onverteerd deur die spysverteringskanaal van die dier beweeg en sodoende dien as bron van verdere verspreiding van die indringerplante.
Peule moet dus gemaal word voor gebruik en diere moet in gevalle waar heel peule gevoer word, in die kraal gehou word vir ten minste 10 dae om te verseker dat pitte nie buite die kraal versprei nie.
Soutbosse
Alhoewel oumansoutbos tans as ’n groep 2- onkruid verklaar is (omdat dit ’n uitheemse gewas is), is daar byvoorbeeld net in 1984 in die noordweste van Kaapland alleen 1 miljoen soutbosplantjies aangeplant.
Oumansoutbos het ’n redelike hoë voedingswaarde (15-20% TRP en 60% TVV op ’n droë basis) en ’n baie hoë drakrag. Oumansoutbos is effe onsmaaklik weens die hoë natriuminhoud, maar ’n geharde plant met ’n baie hoë potensiaal as veevoer. Voldoende vars water moet beskikbaar wees vir diere wat soutbosse bewei.
Turksvye
Turksvye (ongeveer 6% ruproteïen en 70% TVV op ’n droë basis) is ’n welbekende droogtebestande gewas en is vroeër in groot hoeveelhede in die droogtegeteisterde gebiede van Suid-Afrika aangeplant.
Turksvyeblaaie kan saam met die nodige proteïen en vesel as onderhoudsdieet vir herkouerdiere gebruik word. Turksvyblaaie moet geprosesseer (in stukke gekap) word vir beter benutting.
Wanneer turksvyblaaie as enigste voerbron gebruik word, kan dit tot diaree by diere lei.
Kitsgroenvoer
Reeds in die sewentigerjare is stelsels vir die produksie van kitsgroenvoer, maw graan (gewoonlik gars) wat vir ongeveer 7 dae toegelaat word om in bakke met baie watertoediening uit te groei, in Suid-Afrika bemark.
’n Uitgebreide verslag uit Australië sowel as plaaslike werk in Suid-Afrika dui egter daarop dat die werklike totale voedingswaarde van die graanpitte min verander en daar meestal slegs akkumulasie van vog plaasvind.
Swamgroei hou ook groot gevaar vir diere in en die stelsels word nie op grootskaal in diereproduksie gebruik nie.
Dit is belangrik by kitsgroenvoer wat tot 85% vog bevat, om die werklike droëmateriaal-produksie van die produkte te bereken deur die vog/-water se massa van die totale voermassa af te trek. Waar die graanpitte dus ongeveer 900 kg per ton droëmateriaal bevat, bevat die kitsgroenvoer slegs 150 kg per ton droë materiaal. Die hoë voginhoud van die produk moet dus in koste-berekeninge in aanmerking geneem word.
Deur prof Ters Brand
(Direktoraat Veekundige Wetenskappe, Departement Landbou: Wes-Kaap; tel 021 808 5225; e-pos: tersb@elsenburg.com)