Wild-trofees na VSA en Swede

SES kratte met wildtrofees is einde November vanuit Oudtshoorn na Texas in die VSA en na Swede uitgevoer.
Dié kratte het hoofsaaklik horings van wilde diere wat in die omgewing gejag is, bevat.
Volgens Marisa Verwey van Spiral Horn Taxidermy op Oudtshoorn word dié kratte vanaf Spiral Horn na Johannesburg vervoer en uiteindelik via lug- of seevrag na hul onderskeie bestemmings gestuur.
Sy sê dit duur sowat nege maande voordat ’n wildtrofee – hetsy die hele dier, of sy kop, vel of horings – gereed is om uitgevoer te kan word.
Danie van Jaarsveld van Western Cape Game sê trofeejag, wat deel van gesinsvakansies gemaak word, is baie gewild in die omgewing en lok baie buitelandse toeriste na die streek.
“Sowat 300 diere wat buitelanders in die omgewing gejag het, is reeds vanjaar uitgevoer.”
Volgens hom kom sowat 80% van sy toeriste vanaf Amerika en die ander vanaf Europa.
Terwyl die mans ’n bok of twee jag, word die res van die gesin vir die dag besig gehou met verskeie besienswaardighede. Hulle besoek ook kurio- en ander winkels.
“Hierdie is nie net ’n groot finansiële inspuiting vir wildplase nie, maar ook vir plaaslike besighede op en om Oudtshoorn en ook vir die kleiner dorpies in ons omgewing.”
Hy sê die jagmark help in die huidige droogte met ’n alternatiewe inkomstebron vir verskeie boere van die streek.
’n Buffel wat in Julie vanjaar opslae gemaak het toe Henko Schoeman ’n noue ontkoming gehad het tydens die jag daarvan op ’n plaas buite Oudtshoorn, word ook tans op Oudts­hoorn gepreserveer om later na die VSA uitgevoer te word. Dié buffel behoort volgens Van Jaarsveld vroeg in 2020 reg te wees vir uitvoer.

Deur Angelique Erasmus