MET die skole wat Woensdag gesluit het, besef jy ewe skielik die vakansie is om die draai. Nou is dit ’n gejaag om alles na te gaan voor die tog binneland of see toe begin. Hier is so ’n lysie van wat jy moet nagaan voor jy die langpad aandurf.
• Maak seker jou voertuig is gediens, remme, battery, ruitveërs en ligte is nagegaan en die bande is in ’n goeie toestand. Onthou om die noodwiel ook na te gaan.
• Maak seker die sleepwa/karavaan se wiellaers is gepak met ghries en dat die bande in ’n goeie toestand is.
• Maak seker al die voertuie (sleepwa/karavaan ingesluit) se lisensies is op datum en dat die nuwe skyfies duidelik sigbaar vertoon is.
• Maak seker jy het driehoek-waarskuwingstekens in jou voertuig ingeval jy langs die pad probleme kry. Pak ook ’n flitslig in sodat jy ander motoriste kan waarsku as jou motor in die aand probleme ontwikkel.
• Pak ’n paar basiese gereedskapitems en jumper cables as jy het. Hou maar ook ’n 5 liter-bottel water byderhand.
• Maak seker die domkrag van die voertuig is in ’n werkende toestand en dat dit in die motor is. Onthou om die sleepwa/karavaan se domkrag ook na te gaan.
• Maak seker jou rybewys het nie verval nie.
Maak dubbel seker jou voertuie se bande is in ’n goeie toestand, want dit is die eerste ding waarna die versekeraars kyk as jy ’n eis indien.
Indien jy ’n sleepwa/ karavaan gaan sleep, maak seker jy oorskry nie jou motor se sleepvermoë nie en jy kom ook die wet na wat betref die sleep van sleepwaens/karavane. Jy kan die berig hieroor op Die Hoorn se webwerf lees by https://www.diehoorn.com/motors/dit-se-die-wet-oor-jou-sleepwa-en-jou-rybewys/.
Hou jou voet maar lig op die petrolpedaal met die petrolprys wat al weer gestyg het. Moenie die spoedgrens oorskry nie en hou by die padreëls.
Maak seker jy hou gereeld stil – so elke twee ure of elke 200 km, en maak seker jy drink genoeg vloeistof om jou gehidreerd te hou.
Maak seker jy het jou versekeraar, mediese fonds en belangrike kontaknommers op jou sel-foon indien jy dit dalk nodig kry.
Beplan jou roete en vind uit of daar enige padbouwerk op jou roete is – om jou lewe so bietjie makliker en jou reistyd so kort moontlik te maak. Dit gaan die frustrasievlakke so ’n bietjie laer hou indien jy die bouwerk aan die pad kan vermy.
Indien jy beplan om in die vroeë oggendure te vertrek, maak jou motor die vorige aand al vol brandstof. Pak maar ook ’n paar versnaperings in; veral as jy kinders aan boord het.
Deur Heinrich Bosman