Geen gesprekke deur munisipaliteit oor Hopeville nie

TIEN houtstrukture staan tans langs Voortrekkerweg / die N12 op Oudtshoorn, met nog sowat sewe halfgeboude strukture wat teen vandag (Donderdag) klaar gebou sal wees.
Volgens Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers of Hope, wat dié strukture bou, bly daar reeds 30 mense op die stuk grond, wat hulle na Hopeville herdoop het.
Tien van hulle is kinders.
Daar is geen ablusiegeriewe of lopende water op die stuk grond waar die strukture opgerig is nie.
Volgens Mduma was van hulle Dinsdag by die munisipaliteit om met die munisipale bestuur­der, Allen Paulse, en die waarnemende direkteur van die departement menslike nedersettings, Shehaam Sims, te praat, maar was daar niemand om hulle te woord te staan nie.
Sy sê van hul strukture wat deur mense van die Oudtshoorn Gholfklub verwyder is, is ook nog nie terugbesorg nie.
Die Backyard Dwellers het volgens hul regs­verteenwoor­diger, Regan Brown, verlede Donderdag ’n interdik verkry teen twee lede van die Oudtshoorn Gholfklub, Godfrey Malgas en Paul Stroebel, nadat van hul strukture verwyder is.
Volgens Brown het hy en die klub se regsverteen­woor­diger, Gideon Badenhorst, egter Vrydag ’n ooreenkoms bereik dat die strukture terugbesorg sal word.
Intussen het inwoners van 5de Laan en verteenwoordigers van die Backyard Dwellers Dinsdagmiddag vergader om te kyk hoe hulle deur same­werking die situasie kan oplos. 5de Laan loop aan die ander kant van Voortrekkerweg as waar die houtstrukture staan.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het op hul beurt teen druktyd van Die Hoorn gistermiddag steeds nie op navrae sedert verlede week oor die oprigting van die strukture gereageer nie.

Deur Angelique Erasmus