Bowkers egpaar in 2020 verder verhoor

DIE verhoor van ’n egpaar van Oudts­hoorn wat van verseke­ringsbedrog en geldwassery aangekla word, is vir verdere verhoor in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende jaar uitgestel.
Ricardo Bowkers (43), wat reeds 12 jaar tronkstraf opgelê is nadat hy op vyf aanklagte van bedrog en een van geldwassery skuldig bevind is, staan saam met sy vrou, Desiree (38), tereg op nog 22 soortgelyke klagtes.
Hulle het na bewering vals eise by Santam en Mutual & Fe­deral ingedien.
Van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo in aanhou­ding was vir vorige klagtes waarop hy skuldig bevind is.
Albei pleit onskuldig.
Desiree Bowkers het volgens die aanklagte bankrekenings in die name van die egpaar se twee minderjarige kinders oopgemaak en die geld daarin laat oorplaas.
’n Amptenaar van Santam, Heidi van Staden, is die eerste staatsgetuie in die getuiebank.
Sy het reeds oor 15 van die 22 klagtes getuienis gelewer; oor telefoonoproepe wat die beskuldigdes na Santam gemaak het om vir beweerde gesteelde goedere eise in te stel.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Hy het die saak as gevolg van ’n vol hofprogram die res van die jaar tot 2 Maart 2020 uitgestel.

Deur Garnett Wicomb