DIE aktrise en vervaardiger Eldene Jones wat op Oudtshoorn grootgeword en skoolgegaan het, is te sien in ’n nuwe kortfliek, Rooilug, wat sedert die begin November op DSTV Showmax te sien is.
Dit is Eldene, wat al op die verhoog en TV te sien was, se debuut op die grootskerm.
Rooilug se premiere was op 23 Augustus 2019 by die kykNET Silwerskermfees waar dit vir toekennings in agt kategorieë benoem is, naamlik vir beste kortfilm, beste regisseur, beste akteur, beste manlike byspeler, beste produksieontwerp, beste kinematografie, beste redigering en beste kostuumontwerp.
Eldene vertolk die rol van Sussie, ’n karakter wat deur haar man vermoor word, in dié kortfliek wat gesinsgeweld as tema het.
Saam met haar in die Rooilug is Marlo Minnaar, bekende akteur wat ook op Oudtshoorn grootgeword en skoolgegaan het, te sien.
Eldene sê dit was vir haar ’n belewens om deel te kon wees van dié kortfliek.
“Ek het weer eens besef dat gesinsgeweld ’n realiteit in baie van ons gemeenskappe is en dikwels deur drank- en dwelmmisbruik veroorsaak word. My doel om ’n verandering te weeg te bring deur middel van kuns, met die hoop om hierdie haglike omstandighede te beveg, is nou nog sterker.”
Sy sê sy wil steeds ’n verskil maak in veral jongelinge se lewens en beoog as ’n begin ’n klein opelug-fliekaand op Oudtshoorn vir 20 Desember.
“Ek beoog ook om dit oor die somerseisoen ’n instelling te maak.”