Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Namate kinders groter word, kom hulle dikwels voor groot uitdagings te staan.
Sommige hiervan mag dalk “gewone” dinge wees, soos om vir die eerste keer skool toe te gaan, of ’n broer of suster te
word. Maar baie kinders kom ook voor uiters moeilike uitdagings te staan, soos om aan die ontvangkant van voor –
oordeel te wees, of die dood van ’n geliefde, of ’n egskeiding.
Kinders het in hierdie tye veral ons ondersteuning nodig, en een van die maniere waarop ons hulle kan help, is om stories met hulle te deel.
Daar is talle wonderlike stories oor die potensieel moeilike situasies en dilemmas waarvoor kinders te staan kan kom. Deur hierdie stories saam te lees, kan jy help om jou kinders op die volgende maniere te ondersteun.
• Wanneer jy ’n storie lees waarin daar ’n karakter is wat iets moet hanteer wat soortgelyk is aan die een wat jou kinders moet hanteer, help dit hulle om te besef dat ander kinders soortgelyke probleme as hulle het. Op hierdie manier voel hulle minder alleen.
• Stories kan kinders help om ’n uitdagende situasie beter te verstaan, om te ontdek hoe om dit te hanteer, en om die opsies tot hul beskikking, te verken. Om stories te lees kan hulle help om hulself beter te verstaan.
• Baie kinders vind dit moeilik om hulle gevoelens te identifiseer en te kommunikeer. Wanneer kinders met ’n karakter in ’n storie identifiseer, kan hulle dikwels praat oor dit wat hulle pla deur oor die karakter te praat.
• Stories bied vir ons ’n wonderlike vertrekpunt vir ’n bespreking oor dinge wat soms moeilik is om oor te praat. As jy vrae met ’n oop einde oor die storie vra terwyl jy dit lees en nadat jy dit gelees het, help dit kinders om oor hulle eie, persoonlike bekommernisse, emosies of idees te dink en te praat.
Hier volg ’n paar voorbeelde van vrae wat jy kan gebruik: “Waarom dink jy het sy dit gedoen/gesê?”, “Wat dink jy behoort hy te doen?”, “Hoe sal jy voel as..?”, “Wat sal jy doen as..?”, “Wat doen jy wanneer..?” • Om stories saam te lees kan ook tot ander vorme van selfuitdrukking lei.
Jou kinders kan byvoorbeeld die storie oorvertel of opvoer, hulle eie storie vertel of skryf, ’n prent van die storie teken (of een wat daardeur geïnspireer is), of aan een van die karakters in die storie skryf.
Stories het dalk nie die mag om die situasie te verander nie, maar hulle kan help om ons ervaring van die situasie te verander.
