Die voorblad van Poem Mooney se nuwe bundel.
Deur Liesel le Roux
POEM MOONEY sit op ’n sonnige Maandagmiddag in Oudtshoorn en lees voor uit sy nuwe digbundel – en soos dit ’n bobaas-storieverteller betaam, kan ’n mens nie ophou luister nie, en jou oë nie van hom afhou nie.
Dié bekende Oudtshoorniet en Khoisan-stamhoof is ’n legendariese storieverteller – bekend by feeste en oor die radio.
Sy gawe met woorde eindig nie by sy stories nie; hy is ook ’n skrywer wat al voorheen gepubliseer het, en pas weer ’n bundel gedigte die lig laat sien het wat hy sê hy opdra aan “my mense”.
Dan verduidelik Mooney: “ ’n Ander naam vir klipstapels is bakens. Dit is sekere dinge en mense wat jy in jou lewe vir die nageslag staan maak, ’n anker wat sê ons het ’n kom-vandaan-geskiedenis.”
Een so ’n gedig waarin hy raak aan die Khoisan-geskiedenis, is die gedig Herfsreën:
Die Kaap huil snot en trane teen die venster / van die Southern Sun Hotel / in Strandstraat zirts motors deur plasse water /in die kamer waar ek voor die venster staan / kyk ek na die reën wat na benede straal / en val en val en val /Saam met die Kaapse tranestortery / trek ek ’n lyn van Langstraat na die kaai / soek ek na die plek waar Sarah Baartman opgelaai was / in die boot na Frankryk saam met / Couvier en kie / Deur die middestad waar hyskrane hoog uittroon bokant / grys geboue soek ek tevergeefs na / ’n Khoisan-straatadres.
Die bundel bevat ook gedigte oor sosiale geleenthede asook “struggle”-gedigte uit ’n unieke Oudtshoorn-oogpunt.
Dit was ’n “moeilike tyd” op Oudtshoorn, sê Mooney oor die middel-1980’s.
Hy vertel hoe die bruin gemeenskap in ’n stadium besluit het om hul geld terug te hou van besighede in Oudtshoorn se middedorp.
“En al was dit ’n moeilike tyd vir almal, het dit ook ’n magsmodel geskep met winkeltjies wat oopgemaak het in Bridgton.
“Maar veral het dit ons ook almal van albei kante na die tafel gebring sodat ons daar met mekaar begin praat het.”
Op die agterblad van sy bundel pryk ’n foto van die bekende Oudtshoorniet met amper iets soos ’n motto oor sy bundel (uit die gedig Grafte) langs die foto:
Ek het ’n Khoi-Khoi-graf van ’n Kaptein gesien / by Lammerkraal in die Karoo. / Klipgestapel, hoog opgebou. / Ek glo nog steeds die beendere van sy geliefde vegbees, / wit gebleek, was vir die nageslag behou – / al was dit tussen struike weggesteek.
• Klipstapels is teen R150 te koop by Mooney of by die Klippie Teater in Hoogstraat. Hy hoop om ook eersdaags ’n voorlesingsgeleentheid uit die bundel aan te bied.