Poem Mooney loop terug na sy ‘komvandaan’

SY “nawelstring” lê in dié dorp in die Groot-­Karoo begrawe, vertel die skrywer en digter Poem Mooney oor sy nuwe boek, Stories uit Lap: Die ontstaan van Prins Albert, wat pas verskyn het.

Met dié boek wil hy die woord re­naissance van toepassing maak op sy geliefde dorp, sy “komvandaan”, vertel hy. Dis ’n welkome en tydige toevoeging tot dié Attakwa-stamhoof se oeuvre, ná sy twee digbundels, Ons skilder met woorde en Kringe om die maan, en sy boek met vertellings, Klink soos ’n klok.

Mooney, wat die onderwys as loopbaan gekies het en deesdae op Oudtshoorn woon, is in 1942 op Prins Albert gebore en vernoem na sy oupa, Gert Petrus Jakobus Balie, ’n steenmaker van beroep.

“Dit was nog altyd my droom dat iets moois sou verrys uit die oorblyfsels en versande fondasies wat eens op ’n tyd huise was, waar Nuwerus, die Rooi­kamp en die bos en ander kleurlingwoonbuurte eens op ’n tyd gepronk het.”

Dis ’n boek wat onbeskaamd is oor herkoms, afkoms en inheemsheid, oor “die oue en die nuwe, oor wedergeboorte, herlewing ná stormagtige tye soos droogtes, oorloë, die griep-epidemie van 1918 en die gedwonge verskuiwing en apartheid wat die ge­- meenskap van Prins Albert nadelig ge­raak het – hoe die inwoners, ondanks dit alles, ’n weeropbloei beleef het”.

Vir Mooney is Prins Albert ’n erfla­ting in sy lewe wat ’n reuse-rol in sy skryfwerk speel. In Stories uit Lap vertel hy hoe oud-inwoners “my as kind help vorm het, onder andere Tant Lettie Wicomb, Oom Gerrie Botes en Tant Hannie April”.

Stories uit Lap bestaan uit 37 hoof­stukke wat insluit Grotte, Skuilgate, bakkranse, KhoiKhoi-krale; Onstaansgeskiedenis van Prins Albert; Bou van die Swartbergpas; Die invloed van dwangarbeid op Prins Albert se nasate; Die Balies van Palmietfontein; kerkskole op die dorp en die buiteposte; kruie en kruiegenesers; storievertellers van weleer; Oom Plekkie Water; Mister Makkie; Oom Dan Rank se klerema­kerswinkel; Oom Samuel Delport; Stories uit Lap; en kleurryke karakters van Prins Albert.

“Prins Albert vul my met ’n onge­kende heimweë oor wat was.

“Dis ’n dorp met ’n geskiedenis wat altyd deel sal wees van my lewensloop. Dis ’n dorp wat presteerders en sakemanne en vakmanne opgelewer het – kleremakers, skoenmakers, rietdak­dekkers.”

Sy talent as storieverteller en liefde vir stories, memoires en poësie skryf het hom tot selfontdekking gelei, vertel Mooney.

“Hierdie ingeskapenheid het as padkaart gedien en my op simboliese reise geneem. Dis begaafdhede wat vandag nog betroubare padwysers is waarop ek kan staatmaak. Ek het eerlik geskryf oor ons mense en die Karoo. Dis in elk geval twee woorde gewortel in mekaar.

“Hierdie regte, egte Karoo-diamante het ’n eiesoortige lotsgebodenheid. Gekomde mense het ’n geskiedenis van ontkenning, miskenning en verwerping. Dis ’n volk met ’n verlede wat hulle hardnekkig uitspreek teen dit wat hulle ontneem is – herkoms, godsdiens, kultuur en taal.”
En dis veral oor die ontneming van die eie moedertaal waaroor Mooney in Stories uit Lap skryf: “Die eie moedertaal, ’n gemarginaliseerde taal wat nou deur die eerste spreker teruggewen word. Ek weet wat word van mense wat van hul taal ontneem word. Ek weet ook van die moedersmelksprekers wat ’n verlede as brugtaal help skep het. Vandag is ek ’n trotse gebruiker van Afrikaans, en on­beskaamd besig ek dit met gesag.”

• Stories uit Lap: Die ontstaan van Prins Albert, is uitgegee deur Kreativ SA. R200.

Vir bestellings, stuur ’n epos na: ­poemmooney11@gmail.com. (Deur Marlene Malan)

2 Comments on "Poem Mooney loop terug na sy ‘komvandaan’"

  1. Frances Baatjies | 07/27/2020 at 13:16 |

    Love it.Well done.

  2. marco Paulse | 07/24/2020 at 11:01 |

    Geluk Mnr Mooney op u bekendstelling van u boek.Sal altyd die grootste respek vir u het.

Comments are closed.